MunicipalNews

Raad erken dienslewering kort dringend aandag

Die ANC- en opposisieraadslede van die Bela-Bela-munisipaliteit het op Woensdag 26 Februarie eenparig tydens ’n spesiale raadsvergadering erken dat dienslewering in die dorp en omgewing nie op standaard is nie en dringende aandag vereis.

Die vergadering het stiptelik om 10:00 begin en die sakelys is binne ’n halfuur afgehandel.

Die besprekingspunte het gehandel oor dienslewering, asook die munisipaliteit se aanvullende begroting wat dieselfde dag goedgekeur is.

Dié begroting word ’n paar maande voor die begin van die nuwe boekjaar in Julie opgestel sodat die munisipaliteit se inkomste- en uitgawevooruitsigte aangepas kan word indien daar minder geld ingevorder word as wat in die begroting aangedui is.

Al die raadslede het hul vertroue in die nuwe aanvullende begroting uitgespreek.

Henriëtta Ledwaba, hoofsweep, asook Jeremiah Ngobeni, burgemeester, het egter uitgebrei oor die klagtes uit die gemeenskap oor foutiewe waterlesings, kragprobleme en die swak diens by die verkeersafdeling.

Die verkeersafdeling ondervind reeds geruime tyd ’n agterstand met die uitreiking van voertuiglisensies.

Volgens die nuutste munisipale verslag het die verkeersafdeling ook nie sy begrote inkomste van R17 miljoen bereik nie. Weens swak invordering moes die begroting aangepas word na R10 miljoen se verwagte inkomste.

Ngobeni het gesê ’n vergadering is reeds met die amptenare by die verkeersafdeling belê om die probleme by dié afdeling be bespreek.

Verder het Zachariah Moeletsi, speaker, gesê bewerings van twyfelagtige eise vir oortyd en siekverlof by die munisipaliteit word ondersoek.

Raadslede het tydens die vergadering onderneem om alle probleme van die gemeenskap wat die munisipaliteit in ’n slegte lig stel, binne 21 dae op skrif moet verskyn en dat daar daadwerklik aandag daaraan gegee moet word.

Tinus Ras, DA-raadslid, het na afloop van die vergadering gesê daar is ’n moontlikheid dat die talle foutiewe straatligte in die dorp nie net weens stukkende gloeilampe is nie, maar dalk weens ’n elektriese toevoerprobleem. Die tegniese afdeling is volgens hom besig om ondersoek in te stel.

Related Articles

Back to top button