BlogsOpinion

Hoofartikel: Dorp pronk met puik atletiek

Atlete, ouers en toeskouers het hulself die afgelope naweek reggemaak vir atletiek uit die boonste rakke.

En dit is presies wat hulle gekry het by die Bosveld Interhoër 2020 wat by Hoërskool Nylstroom aangebied is.

Meer as 6 000 mense het op die dorp toegesak en hul tuisgemaak in gastehuise, vakansieoorde of deur die winkelsentrums gestap na die byeenkoms.

Vooraf het nie net die skool nie, maar ook inwoners, ingespring om die dorp op te ruim, gras te sny en bome te snoei.

Die afgelope week het die komplimente vir die gladde aanbieding van die byeenkoms ingestroom. Die Nylies het breëbors rondgeloop. Baie van die Waterbergers het ook so gevoel: oor hul atlete se goeie prestasies, die optrede van hul leerders of die indrukwekkende opkoms van die dirigente.

Vroegoggend reeds het die atlete in perfekte rye oor die veld aangestap gekom, trots geklee in hul netjiese atletiekklere. Die sangers op die pawiljoen het soos een man gereageer op aanmoediging van die dirigente. Daar is gehardloop, gespring en gegooi en die plattelandse kinders het gewys hulle staan nie terug vir hul eweknieë in stadskole nie. Die kos was lekker, die diens vriendelik, die badkamers skoon.

Op die pawiljoen beland ek tussen ouers wat ook oudleerders aan skole in die omgewing is. Soos ons mos maar op die platteland maak, knoop ons geselsies aan tussen ons luide toejuiging van atlete deur. Ons is trots om deel van dié dag te wees, is die ouers dit eens, al dra my kind blou en joune rooi of groen.

Dit laat ’n mens dink. Slaan ’n mens ’n koerant oop, skakel ’n radio aan of lees sosiale media, word ons gebombardeer met berigte oor hoe sleg dit in die land gaan, hoe gewelddadig, hatig en korrup ons samelewing is, hoe wankelrig ons ekonomie se knieë is. Ons hoor oral hoe is ons geliefde land besig om in duie te stort.

Die besef tref ’n mens waar jy in die jillende skare sit — op Saterdag 29 Februarie was daar geen teken van dié dinge op die hoërskool se terrein nie. Atlete help mekaar op en moedig mekaar aan al is hulle van meedingende skole. Die program is op tyd. Niks is stukkend, gebreek of vuil nie. Die duisendes op die pawiljoen is vrolik én verdraagsaam. Daar is een gemeenskaplike doel: atletiek.

Ten spyte van soveel wat om ons agteruitgaan en verswak, is daar dinge wat in weerwil hiervan, of dalk juis gedwing hierdeur, net aanhou verbeter en uitstyg. Asof hoe slegter dinge om dié instansies, organisasies, groepe of gemeenskappe gaan, hoe hoër hulle die kerf vir hulself stel.

En dit is juis die punt. Wat wil jy hê jou kind moet uit ’n byeenkoms soos dié leer? Maak nie saak wat om jou gebeur nie. Moet jou nie steur aan die atleet langs jou of die omstandighede om jou nie. Jy kan daaraan niks doen nie. Daag op. Neem deel. Gee jy jóu beste.

Related Articles

Back to top button