Ontnugterde ouma, Modimolle, skryf:
Die mens is na die beeld van God geskape — so staan dit geskryf.
Het jy al ooit gesien wat doen daardie selfde mens onder die naam van pornografie? Jy sal jou kleintongetjie insluk.
Dit bring my by die doel van dié brief. In pragtige, vriendelike, sonnige Modimolle, ja, in hierdie dorpie van ons, sluip talle predatore rond. Ja, sommer tussen ons. Hierdie soort kry ’n mens nie in die dieretuin, wildtuin, natuurreservate of op Discovery Channel nie.
Nee, hulle sit in jou sitkamer, kyk saam na Animal Planet, vreet van jou tafel af, slaap in jou spaarkamer, spring saam met die kleingoed in die swembad en gaan Sondae saam kerk toe. Jou kosbare kind sit op hulle skote. Hulle hou selfs jou hand in die kerk vas en sing kliphard saam: “Prys die Heer”.
Maar hierdie predatore moet vreet en hulle prooi is sagte kinderlyfies.
Jou kind is dalk drie jaar oud, myne vyf en die buurvrou s’n ’n skamele twee. Die ergste van hierdie predatore is dat hulle deel is van ’n groter gesin of familie. Hulle gedaantes wissel. Hulle is nie vreemdelinge nie, maar kom uit jou geliefde familie. Dalk ’n oupa, pa, oom, boetie, nefie en, glo dit of nie, dalk nog een van die Eva-geslag, want ook hulle kan verrot wees en kosbare kinders seksueel molesteer.
Moenie van die kuiergas-predatore vergeet nie. Hulle is ook deel van ’n familie. Hulle kom kuier met hul walglike pornografiese streke en manewales en oefen op jou kosbare kind. Hulle verskeur jou kind, verslind en vermink en los hulle op ’n bloedige hopie. Hulle draai om, lek hul lippe af en gaan terug na hul lêplekke — tot volgende keer.
Hierdie is die waarheid. Ek weet dit, want ek het dit self gesien. Hier is ’n donker, diep, stinkende siekte onder families en niemand wil daaroor praat nie, want hulle is bang dit tas hul sosiale status aan. Hierdie stink neste moet oopgeskop word.
Almal is nie onder verdenking nie. Dit is net ’n klein persentasie van ons dorp se bevolking wat hulle hieraan skuldig maak.
Hoe plak ’n pappa of mamma weer hul kosbare kind aanmekaar ná so iets? Hierdie lasplekke wys vir altyd. Soveel trane, soveel bitterheid, soveel wroeging, soveel hartseer en magteloosheid. Die vernedering en stigma kleef vir altyd aan die kind.
En waar laat dit ons? Moet ons stilbly omdat dit familiesake is? Mag niemand daarvan weet nie? Die skande! Wat sal die mense sê?
Te duiwel met die mense wanneer ’n kind se menswees gebreek word.
Jy klim op die naaste dak en skree die roofdier se naam ten hemele sodat die hele gemeenskap kan weet. En dan, liewe ouer, tree jy hard en vinnig op. Daar is geregtelike stappe wat geneem kan word.
Ouers, word wakker!
Maak oop julle oë en moet geen familielid vertrou nie. Moenie die hand van jou kosbare kind in die predator se harige klou plaas nie. Staan op, vat jou kind se handjie en stap self saam met hulle. En nog meer: Familielede, maak oop julle monde teen hierdie gruweldade. Moenie stilbly en anderpad kyk nie.
Kindermolestering is nie net ’n sonde teen die slagoffer nie, maar ook ’n sonde teen die gemeente, die sekulêre owerhede en veral teen God.