Om vyf interhoërrekords in vyf jaar te verbeter is beslis iets vir die rekordboeke.
Danél Niemann, ’n o.19-atleet van Hoërskool Nylstroom, het haar droom die afgelope naweek verwesenlik toe sy die gewigstootrekord van 13,02 m, wat in 1972 deur Corra Schoombee opgestel is, met bykans ’n halwe meter verbeter het. Danél het ’n afstand van 13,45 m gegooi.
“Ek het die afgelope twee weke nie geslaap nie. Ek was baie bekommerd of ek die rekord sou kon verbeter, maar het gedroom daarvan. Ek gooi nog nie konstant oor die 13 m nie en het myself die hele week moed ingepraat dat ek dit tydens die byeenkoms sal kan doen,” vertel die donkerkop matriekleerder. “Ek was emosioneel omdat dit die laaste keer was dat ek vir my skool kon deelneem.” Sy was ook vanjaar atletiekkaptein.
Danél is die rekordhouer in elke ouderdomsgroep. Sy het in 2016 die rekord vir o.14-meisies na 12,27 m (3 kg) verbeter, in 2017 (o.15-meisies) het sy die rekord na 13,26 m (3 kg) verbeter, in 2018 (o.16) het sy opgeskuif na 13,33 m (3 kg) en in 2019 (o.17) het sy die rekord na ’n afstand van 13,63 m (3 kg) verbeter. Vanjaar staan haar rekord op 13,45 m met ’n gewig van 4 kg.
Danél is al sedert laerskooldae ’n gewigstoter.
“My pa was ’n baie goeie 100 m- en 200 m-atleet, maar ek het nie van hardloop gehou nie en in gr. 4 eerder gewigstoot gaan doen. Ek het in dié jaar my eerste rekord verbeter,” het sy gesê.
Dié prestasie kom nie sommer maklik nie. Sy oefen elke dag vier uur lank — twee uur in die gimnasium om plofkrag te bou en twee uur op die veld aan haar tegniek.
Noudat die interhoër en droomrekord agter die blad is, lê die Suid-Afrikaanse kampioenskap, wat van 18‑21 Maart in Boksburg plaasvind, voor. Atletiek Suid-Afrika se byeenkoms is later vanjaar in die Paarl.
“My afstand is op hierdie stadium die tweede beste in die land. Ek staan ’n kans om ’n medalje te kry, maar dit hang af van wat op die dag van die byeenkoms gebeur,” het sy gesê.
Die jong atleet trek aandag en is deur die radiostasie RSG vir ’n onderhoud genooi.
Vir nou fokus sy daarop om haar matriekjaar klaar te maak.
“Ek is dankbaar vir vyf jaar se geleenthede. My hart is seer omdat my skole-atletiekloopbaan amper op ’n einde is, maar ek is trots op my skool,” het sy gesê.
Sy bedank ook die plaaslike ondernemings wat haar geborg het.