Local newsNews

DA-leiers luister na kwelvrae

Suid-Afrikaners is bekommerd oor die toekoms van die land en veral pensioentrekkers is diep verontrus oor gerugte dat pensioenfondse gebruik kan word om regeringskuld te delg.

Inwoners van die Warmbad Rusoord se Tuiste vir Bejaardes het op Vrydag 21 Februarie geluister na Desireé van der Walt, DA-LP, wat uitgebrei het oor die politieke toestand in die land en die swak beeld wat politici het ná die sirkusvertoning tydens vanjaar se parlementsitting.

Sy het gesê dit laat die vertroue in die leiers van die land wegkwyn.

Hoewel pres. Cyril Ramaphosa ’n paar kernsake in sy staatsrede aangeroer het, soos grondonteiening en die nasionale gesondheidsorgplan, lyk dit asof die oppergesag niks weet van wat op grondvlak aangaan nie, het Van der Walt gesê.

“Kinderhuise in die Waterberg-gebied se regeringstoelaes word laat oorbetaal, die plaaslike ekonomie sukkel, bejaardes se kinders sukkel om werk te kry, pensioene is in gedrang, die gesondheidsplan is nie haalbaar nie en daarom gaan arm mense in die toekoms nog slegter daaraan toe wees,” het sy gesê.

“Die DA sal hof toe gaan om te voorkom dat van hierdie planne deurgevoer word of handuitruk. Ons eerste plan is om al die plaaslike probleme, soos in Bela-Bela, met ’n vraag-en-antwoord-sessie aan die verantwoordelike minister te rig en op oplossings aan te dring.”

Tinus Ras, DA-raadslid, het kortliks uitgebrei oor die swak toestand van infrastruktuur in die dorp.

“Dinge lyk beroerd. Die munisipaliteit skuld Eskom tans R40 miljoen en vir Magalies Water R15 miljoen. Die munisipaliteit vorder nie die uitstaande skuldbedrae vir dienslewering van ongeveer R180 miljoen in nie en daarom klop die boeke nie,” het hy gesê.

Die skuld vir swak dienslewering word op politieke inmenging gepak. Die munisipaliteit is tans weer besig om ’n nuwe munisipale begroting vir die komende boekjaar op te stel. Intussen is dit elke inwoner wat getrou vir dienste betaal wat onseker is oor die toekoms, het hy gesê.

Die probleme wat die Rusoord-inwoners direk raak en dringende aandag nodig het, is die swak toestand van die paaie (veral die vervalle Lunaweg agter die tehuis), die toestand van die sypaadjies wat ongelyk is en bejaardes kan beseer, straatsmouse wat sonder permitte voor die tehuis hul ware uitstal en beweegruimte beperk en die onsekerheid oor die staatspensioene (Sassa).

Van der Walt en Ras het onderneem om dié knelpunte namens die inwoners op hoër vlak op te neem.

Op ’n ligter noot is die inwoners genooi om deel te word van breiwerkprojekte vir liefdadigheid waarby Van der Walt betrokke is. Van die inwoners het dadelik hul steun gegee en ook gesê ’n gunstelingtydverdryf kan vir minderbevoorregtes groot vreugde bring.

Related Articles

Back to top button