Gordon spog met pragtuin
Vir groener vingers as dié van Gordon Rollason sal ’n mens ver moet soek.
Sy tuin in die Kokanje-aftreeoord buite Modimolle is ’n lushof, dig beplant met sonskyngeel rose, Josefskleed, woestynrose, orgideë, kosmos, baardirisse, reusetakbokvarings en plante wat die gewone tuinier nog nie vantevore gesien het nie.
Maar dit is sy besondere selfgekweekte litrose en wye verskeidenheid impalalelies wat sy tuiniershart se trots is.
Met die intrapslag waarsku hy al: “Moenie eens vra hoeveel plante ek het nie!”
Rollason noem Kokanje reeds vier jaar lank sy huis nadat hy 22 jaar in Bela-Bela gewoon het. Hy vertel dat hy al op vierjarige ouderdom sy eerste tuintjie in die suidweste van Engeland, waar hy gebore is, gehad het.
Sy liefde vir plante het verseker dat hy ’n loopbaan hierin gevolg het. “Ek het op ’n dag, êrens in die 1970’s, ’n advertensie in ’n vaktydskrif gesien van die Oceanarium in Port Elizabeth wat op soek was na ’n tuinboukundige. “Ek het gedink dat ek net vir drie jaar in Suid-Afrika sou bly, maar kyk net, hier sit ek nog steeds,” lag dié 74-jarige.
Dié plantversamelaar het sy eerste litrooskruising na sy ma, Francis, vernoem. Hy het ’n plantjie van dié litroos met ’n nuwe kombinasie van kleure aan ’n vriend in Engeland gegee en die plant was gou gewild. Dieselfde plant is later gebruik vir sy kruising genaamd Sangeeta met sy oranjegeel blomme met ’n dieprooi randjie. Dit is vernoem na ’n vriendin in Indië.
Sy mees onlangse kruising is net so mooi en is vernoem na sy tuiste: Kokanje Sun. Die blom het ’n sterk oranjegeel kleur.
Rollason sê hy was verbaas toe een van sy litrose — ’n nederige plantjie in ’n 10 cm-potjie — verlede jaar R1 900 op ’n veiling op ’n plaaslike plantgroep se Facebook-blad behaal het. “Dit laat ’n mens baie trots voel as jy foto’s van plante wat jy gekweek oral op die internet raakloop,” het hy gesê.
Sy ander liefde is impalalelies. Dié plant kom wydverspreid voor, ook in die midde-ooste en Oos-Afrika. “Daar is meer as 600 verskillende impalalelies. Daar is 28 wilde spesies en ek is gelukkig genoeg om al 26 van hulle in my versameling te hê. Baie van hulle is deur vriende aan my gestuur.” Hy wys trots twee van die plante wat tans in blom is in sy kweekhuis: skakerings van pienk en wit met ’n dubbelblaar en een met ’n valletjiesrok en veelvuldige blare.
Volgens Rollason is sy twee grootste uitdagings as tuinier die jaarlikse skade wat hy kry as dit in Julie ryp en waterskaarsste. “Ek gebruik nogal min water vir die hoeveelheid plante. Selfs die afspoelwater van die skottelgoed kom tuin toe.”
Rollason sit gemaklik en gesels op sy stoep. Oor sy linkerskouer loer ’n orgidieë of drie en regs roer die Josefkleed saggies in die oggendluggie. Een goeie ding lei dikwels tot ’n ander. In die agtergrond jubel die voëltjies vrolik: ook hulle het deel in hierdie klein paradys.