Bosveld-seun wen goud by Sun Met-ren
Dit was ’n plaasseun van Alma wat op Sondag 1 Februarie die wenperd se neus oor die eindstreep gedruk het in een van die land se grootste perdewedrenne.
Die 38-jarige MJ Byleveld het ’n hoogtepunt in sy loopbaan bereik toe hy die Sun Met in Kaapstad op die rug van die blitsige One World gewen het. Die Sun Met is Suid-Afrika se duurste wedren met prysgeld van R3 miljoen aan die eienaar van die wenperd.
“Sjoe, ek slaan sommer weer hoendervleis uit! Dit was ’n ongelooflike gevoel toe ek besef ek en One World het vir Ryan Moore, wat gesien word as een van die wêreld se beste jokkies, geklop!” het Byleveld vandeesweek aan Die Pos vertel. Moore was die ruiter op Rainbow Bridge. “Tydens die wedren het ek op One World gekonsentreer en ons het net vorentoe gekyk. Dit is eers toe ons oor die wenstreep is, dat ek mooi besef wat gebeur het. Ek kan dit nou nog nie regtig glo nie,” het hy gelag.
Byleveld en One World was vinnig uit die wegspringhokke in die 2 000 m-wedren met Rainbow Bridge soos ’n skaduwee langs hulle. Head Honcho was op die 1 000 m merk voor met One World in die tweede plek en Rainbow Bridge in die derde plek. Met net 300 m oor voor die wenstreep het One World en Rainbow Bridge hul karakter gewys en die ander perde agtergelaat. Die twee het skouer aan skouer wenstreep toe gehardloop met One World wat met elke tree sentimeters vorentoe geskuif het om sy neus eerste oor die wenstreep te druk in ’n naelbyt-einde.
Byleveld se loopbaan het ’n onverwagse afskop gehad.
“My pa was by ’n veiling in Bela-Bela en het met een van sy vriende, Aubrey Upton (’n spekulant) gestaan en gesels. Hy het perde in die stad gehad en vir my pa voorgestel dat ek perdry-akademie toe gaan,” vertel hy.
By die akademie in Durban het hy vir die eerste keer op ’n perd se rug geklim. Hy was 16 jaar oud.
Sy ouers, Johan en Dykies, het eers op Alma geboer waarna hulle in Bela-Bela gewoon het. “Ek was in Laerskool Alma en in Hoërskool Nylstroom. Mense moet nooit die goeie basis van plattelandse skole onderskat nie,” het hy gesê. “Ek is baie dankbaar vir al die mense en ons familie op die Springbokvlakte wat gebel het om my geluk te wens ná die Sun Met.”
Byleveld se loopbaan is besaai met eerste plekke in wedrenne. Hy is ’n jaar en ’n half gelede beseer. “Ek het voor die besering op One World geoefen en was dankbaar toe ek weer ’n geleentheid kon kry om hom te ry.”
One World behoort aan Vaughan Marshall — dit is Marshall se derde Met-wenner.
Kry Byleveld, wat deesdae in die Kaap woon, darem nog kans om ’n Bosveldse draai te maak? “Natuurlik! Ek kom kuier binnekort vir my ouma Ellie Dykema in die ouetehuis op Bela-Bela.”
Byleveld droom groot. “Dit sal lekker wees om eendag Suid-Afrika se kampioenjokkie te wees, maar daar is nog baie werk voor.”