Local newsNews

Boere juig oor veilings

Boere en veilingsbeamptes het vandeesweek gejuig nadat Thoko Didiza, minister van landbou, op Maandag 17 Februarie die groen lig gegee het vir die vervoer van diere en die aanbied van diereveilings.

Dit volg ná ’n bykans drie maande lange verbod op veilings en die vervoer van diere nadat bek-en-klouseer in November 2019 in die Molemole-gebied noord van Polokwane uitgebreek het.

Daar heers egter steeds kommer of die virus heeltemal gestuit is en oor Suid-Afrika se status as siektevrye omgewing.

Didiza het gesê daar is nuwe voorwaardes vir veilings vasgestel. Een daarvan is dat alle veilingsagente by die landbouprodukagenteraad (APAC) moet registreer. Agente wat reeds geregistreer is, mag veilings aanbied, het Didiza gesê. Diegene wie se APAC-permitte verval het, moet dit voor Maandag 30 Maart hernu. Detail oor privaat verkope is nog onduidelik.

Didiza het gesê die opheffing van die verbod beteken nie dat die verspreiding van bek-en-klouseer verby is nie. Veilingshuise moet streng voorsorgmaatreëls tref wanneer hulle veilings aanbied.
Verdere voorwaardes sluit in dat diere wat simptome van die siekte toon, of uit gevaarsones kom, steeds nie vervoer mag word nie.

Voorts het sy benadruk dat diere slegs van betroubare bronne gekoop mag word en dat kopers altyd op ’n vrywaringsertifikaat van ’n erkende veearts moet aandring. Nuwe diere wat by ’n eiendom aankom, moet eers afgesonder word terwyl daar bepaal word of hulle die siekte dra of nie. Staatsveeartse is steeds besig om eiendomme wat deur die siekte geraak is en volgens wet onder kwarantyn geplaas is, te moniteer.

Die slagting van vee by uitgesoekte abattoirs is reeds in werking.

Die Bek-en-klouseer-forum (BK-forum) wat verlede jaar in Bela-Bela gestig is, het op Woensdag 19 Februarie ’n nuwe voorsitter, Willem van Jaarsveld (voorsitter van die Limpopo Dieregesondheidsforum) in die plek van Paul van Vuuren (direkteur van André Kock en Seun) aangestel. Van Vuuren is nou ondervoorsitter.

Die forum het tydens hul vergadering vandeesweek die opheffing van die verbod verwelkom, maar het gesê die forum sal nie ontbind nie, omdat daar steeds ’n moontlikheid is dat die siekte weer kan opvlam.

Planne is beraam om ’n werksgroep te stig wat die virus in gevaargebiede, in samewerking met die departement landbou, sal help bekamp.

Die BK-forum beoog ook om geld beskikbaar te stel aan ’n werkgroep wat sal toesien dat alle vee in Limpopo gebrandmerk word. Dit sal die naspeurbaarheid van vee se herkoms beter beheer. Die forum het ook gesê opleiding aan mense in die bedryf, in samewerking met APAC, is van kardinale belang om te keer dat die siekte weer opvlam.

Die presiese voorwaardes van die minister se aankondiging sal waarskynlik op Vrydag 28 Februarie in die Staatskoerant gepubliseer word.

Related Articles

Back to top button