Padgebruiker, Modimolle, skryf:
Het die verkeerswette rakende smouse langs ’n openbare pad verander?
Verkeersbeamptes sit baie gereeld onder ’n boom oorkant die gevangenis se groentetuin en hou verkeer dop wat Modimolle van Vaalwater se rigting binnery.
Direk langs hulle sit smouse met hout van bome wat vermoedelik iewers in die omgewing gestroop is. Die stapels hout met hul advertensieborde is só naby aan die pad se ryvlak, dat dit ’n mens benoud maak.
Nou wonder ek net of die wettige afstand wat smouse van die pad mag wees, verander het?
Indien een van die groot swaarvoertuie daardie houtstapels tref en ander voertuie is naby, kan daar ’n lelike ongeluk wees.
- Die Pos het verlede jaar breedvoerig hieroor berig. Wetgewing bepaal dat geen handel gedryf mag word binne 60 m van die padreserwe af nie. ’n Permit van nasionale padagentskap (Sanral) is nodig om langs die pad handel te dryf.
James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, het gesê die polisie verwyder gereeld van die smouse. Hulle werk saam met landelike veiligheid. Smouse op die Vaalwater- en Marble Hall-pad word gevra om hul permitte te toon. Indien hulle nie kan nie, word hulle in hegtenis geneem en hul ware gekonfiskeer. Verbode immigrante word in hegtenis geneem totdat hulle gedeporteer word, het hy gesê.
Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het gesê die verkeersdepartement ondersoek die aangeleentheid en sal kommentaar lewer sodra die ondersoek afgehandel is.