BlogsOpinion

Hoofartikel: Die Pos sprei sy vlerke na Thabazimbi

Die Pos het die afgelope week op die koerant se Facebook-blad aangekondig dat dié plaaslike koerant vanaf Donderdag 20 Februarie ook in Thabazimbi beskikbaar sal wees.

Die reaksie en kommentaar was oorweldigend en dit is duidelik dat inwoners van Thabazimbi behoorlik uitgehonger is vir streeksnuus uit die suidelike deel van die Waterberg.

Dit is ook te verstane. Thabazimbi is immers nié, soos baie mense dink, deel van Noordwes nie, maar van Limpopo. Dié dorp is ook verder deel van die Waterbergstreek, waar alle regeringsdepartemente deur die Waterberg-distriksmunisipaliteit bestuur word. Dit sluit onder meer die plaaslike munisipaliteit en die onderwysdepartement in.

 

 

Dit beteken dat skole in Thabazimbi met ander skole in die Waterberg, asook die groter Limpopo, meeding.

Die jaarlikse Bosveld Interhoër is ’n uitstekende voorbeeld van ’n interskole byeenkoms waar sewe skole in die Waterbergstreek op Saterdag 29 Februarie sal kragte meet. Die Pos gee op die Vrydag voor die interhoër ’n spesiale Bosveld Interhoër-bylae uit wat in die koerant sal verskyn en waarin al die deelnemende skole se topatlete in fotobeeld sal verskyn. Hoërskool Frikkie Meyer se spogprestasies maak ook deel uit van hierdie bylae en Thabazimbi-inwoners sal heerlik kan lees oor sekerlik die grootste atletiekbyeenkoms wat jaarliks in die Waterberg plaasvind.

Die Pos is ook die ideale bemarkingsvoertuig om fondsinsamelings en gebeurlikhede op die toerisme-kalender in Thabazimbi onder die groter Waterberg-omgewing se aandag te bring.

Die Pos sal vir die eerste paar maande gratis in Thabazimbi beskikbaar wees by die volgende sakeondernemings: SuperSpar, Total, Wimpy, Hope-koffiewinkel en PicknPay.

Die koerant se redaksiespan nooi skole, kerke en sportklubs in Thabazimbi uit om nuusbrokkies en foto’s te stuur na dieposnuus@icon.co.za en om te adverteer, stuur ’n e-pos na diepos@icon.co.za(.)

Die koerant het ook ’n groot aanhang op sosiale media. Gaan besoek gerus Die Pos se Facebook-blad en webwerf by www.diepos.co.za(.) om deel te word van die groter Waterberg-familie.

Die Pos is wyd bekend in die Waterberg, maar vir lesers in Thabazimbi wat nog nie kennis gemaak het met dié koerant nie, hier is ’n paar interessante brokkies:

  • Die koerant is in 1982 gestig en vier vanjaar 38 bestaansjare in die koerantbedryf.
  • Die koerant spog met verskeie toekennings waarvan die mees onlangse onder meer insluit: ATKV-
    mediaveertjie as beste plaaslike koerant, asook ’n algehele tweede plek in 2019 as beste betaalde koerant (drukoplaag meer as 5000) in Suid-Afrika. Die toekenning is gemaak deur die Forum vir Gemeenskapsjoernaliste.
  • Die koerant versprei én dek die nuusgebeure in Bela-Bela, Modi-
    molle, Vaalwater, Mookgophong (Naboom), Leeupoort, Alma, Pienaarsrivier en nou ook Thabazimbi en Rooiberg.
  • Die Pos word weekliks by 100 verskillende sake-ondernemings in die Waterberg afgelewer.

Related Articles

Back to top button