Local newsNews

AfriForum help met verwyder van boom

’n Inwoner van Mookgophong, Maria Van Schalkwyk, het aan Die Pos vertel hoe AfriForum in die dorp haar gehelp het om ’n reuseboom wat omgeval het, te verwyder.

Volgens Van Schalkwyk is die boom Vrydagnag 3 Januarie tydens ’n erge storm ontwortel en het dit op die sypaadjie omgeval.

“My buurman het my vroeg die volgende oggend gebel en gesê die takke versper sy toegang,” het sy gesê.

“Ek het dadelik begin navraag doen op verskeie groepe en hulp gevra om die boom te verwyder. Ek het herhaalde kere die munisipaliteit se noodnommer geskakel, maar niemand het gereageer nie,” het sy vertel.

’n Maand later het die boom nog steeds op die sypaadjie gelê. Van Schalkwyk het uit desperaatheid op verskeie gemeenskapsgroepe begin hulp vra.
AfriForum se voorsitter, Philip van Staden, het haar op Woensdag 5 Februarie geskakel en die nodige reëlings getref dat hulle die boom op eie koste sal verwyder. Die boom is die volgende dag opgesaag en verwyder.

“AfriForum het die munisipale verantwoordelikhede op sy koste oorgeneem en flinke diens gelewer. Oom Phillip en die span van AfriForum, ek het nie genoeg woorde om my dank te betuig nie. Julle is tops!” het sy gesê.

Die Pos het met raadslid Hercules Louw oor die aangeleentheid gesels. Hy het gesê hy het by meer as een geleentheid die betrokke amptenare van die munisipaliteit versoek om die boom te verwyder, waarop hul reaksie was dat hulle nie ’n kettingsaag het om die werk te verrig nie. ’n Amptenaar het glo ook aan Louw gesê dat hulle verskeie kere by Van Schalkwyk se woning was, maar dat hulle nie toegang kon verkry nie, aangesien die hekke gesluit was.

Louw het sy dank teenoor AfriForum uitgespreek, wat uit hul pad gegaan het om die inwoner te help.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button