NewsSchools

Meisies vul bottels met lekkernye

Hier ’n vrolike lappie met fyn kant en daar ’n stukkie lint.

Die senior meisies van die Sonstraalskool vir Buitengewone Onderwys in Modimolle sien uit na die naaldwerklesse wat hulle by die Abraham Krielkinderhuis se goedingerigte naaldwerkkamer kry. Hulle het die gebruik van dié kamer vir ses maande van elke jaar wanneer hulle leer naaldwerk en kunsvlyt doen. In dié tyd mag hulle ook die nuwe naaldwerkmasjiene, wat ’n ruk gelede aan die kinderhuis geskenk is, gebruik.

Vroue van die Kokanje-aftreeoord en die kinderhuis het stukkies afvallap, garing, naalde, kant, skêre, potlode en penne geskenk wat gebruik word om voorskote, sarongs, skinkbordlappies, teenette en wat nog alles te maak. Die meisies het vanjaar begin om leë koffiebottels te versier met Valentyns- en wintertemas. Dié bottels sal propvol gestop word met koekies en lekkergoed wat verkoop sal word om geld vir die skool in te samel.

Die datums wanneer hierdie verkope sal plaasvind, sal eersdaags bekend gemaak word.

Enige leë koffiebottels en blikkies kan aan die skool geskenk word. Daar is ook ’n behoefte aan ’n gomgeweer of twee om die bottels te verfraai.

Rita Noeth van Kokanje en Helmien Pieterse, onderwyser, is baie trots op hierdie meisies en moedig inwoners aan om dié projek te ondersteun.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button