Local newsNews

Plaaslike boogskut dra prys aan sy oorlede skoonma op

“Sy was ’n engel en het in baie mense se harte gekruip. Sy was nederig en baie lief vir al haar kinders, kleinkinders, familie en vriende.”

’n Plaaslike kampioenboogskut van Bela-Bela, Quintin du Preez van die Magnum-boogskietklub, het met ’n swaar hart aan die Triple Crown-kampioenskap vir senior mans in Pretoria deelgeneem en ’n eerste plek verower.

Du Preez, wat die algehele wenner was, het sy toekenning aan sy skoonma, Lientjie Ellis (72), opgedra. Sy is op Vrydag 7 Februarie in die Life Eugène Marais-hospitaal in Pretoria aan kanker oorlede. Sy was ’n jarelange inwoner van die Renaissance-aftreeoord in Bela-Bela.

Du Preez het tydens die kompetisie daarin geslaag om ’n punt van 203 uit 220 te behaal.

Hy het aan Die Pos gesê sy skoonma was ’n geliefde mens en was baie trots wanneer haar dogter, Nadia, en kleindogter, Annemike, in boogskiet presteer het.

“Ten spyte van die kanker het sy steeds daagliks vir Annemike by die skool gaan haal en ook verskeie kinders rondgery vir hul naskoolaktiwiteite. Sy was ’n engel en het in baie mense se harte gekruip. Sy was nederig en baie lief vir al haar kinders, kleinkinders, familie en vriende,” het Du Preez gesê.

Sy het gesorg dat die beskuitblikke vol bly en haar vrugtekoeke wat sy jaarliks voor Kersfees gebak het, gaan veral gemis word.

Begrafnisreëlings was nog nie teen druktyd bekend nie.

Ellis was ’n administratiewe beampte vir die Tshwane-munisipaliteit voor haar aftrede in 2012. Sy laat haar vier kinders, twee skoonseuns, ’n skoondogter en ses kleinkinders agter.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button