Local newsNews

Gemeenskap probeer boom red

“Dit sal ’n tragedie wees as die proses omseil word en iemand met ’n kettingsaag opdaag om die boom summier af te saag.”

Die inwoners van Robertsonstraat in Bela-Bela het die afgelope week ingetree om te verhoed dat ’n boom in dié straat afgekap word.

Fritz Groenewald, inwoner, het gesê ’n ander inwoner het ’n aansoek by die Bela-Bela-munisipaliteit ingedien om die boom af te kap, omdat dit glo toegang belemmer.

Munisipale werkers het die week opgedaag om te kyk hoe hulle die boom kan verwyder, maar sekere inwoners het daarteen vasgeskop.

“Ons reken die boom is ongeveer 70 tot 80 jaar oud en ons wil graag sien dit dit nóg groter word. Hierdie boom behoort aan die gemeenskap en ons wil dit vir ons kinders bewaar,” het Groenewald gesê.

“Daar moet eers ’n impakstudie gedoen word voordat sulke groot bome afgesaag word. Die gemeenskap moet ook inspraak kan lewer. Ons het tot dusver goeie samewerking van die munisipaliteit ontvang,” het hy gesê.

Nadat die saak met amptenare opgeneem is, is die proses om die boom te verwyder voorlopig gestaak.

Daar word nou geleentheid gegun vir ’n petisie om opgetrek te word en om ’n vergadering te belê, het Groenewald gesê.

“Dit sal ’n tragedie wees as die proses omseil word en iemand met ’n kettingsaag opdaag om die boom summier af te saag.”

Die munisipaliteit het in die verlede bome verwyder waar dit gevaar inhou vir mense of waar eiendom bedreig word.

Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, het teen druktyd gesê dit lyk asof die boom wel afgekap gaan word.

Related Articles

Back to top button