Philip van Staden, AfriForum Naboomspruit-tak, skryf:
AfriForum se Naboomspruit-tak gaan vanjaar volstoom voort met nuwe en bestaande projekte om die dorp te verbeter.
Die tak kan met trots terugkyk op projekte en harde werk wat die afgelope twee jaar in Mookgophong verrig is waar die dorp se infrastruktuur opgeknap en herstel is.
Daar is ongeveer 22 250 kg teer gebruik om slaggate te herstel. Dié teer is self gekoop of van donateurs verkry. Voetoorgange en stoptekens by die laerskole is weer duidelik geverf en 30 nuwe stoptekens is gekoop en opgerig.
Die tak het ook verskeie kere van die boorgate herstel en meer as R10 000 is bestee om twee koppelstukke vir die hooflyn vanaf die Frikkie Geyser-dam na die suiweringswerke te koop.
Die tak het voorts beswaar aangeteken nadat meer as 350 hoewes as residensiële eiendom gewaardeer is en ’n verbruikersforum op die been gebring wat sekere vereistes aan die munisipaliteit stel oor gebrekkige kraglewering. Die klem word gelê op verbruikers van die buitelyne. Die tak het ook, saam met afgevaardigdes van die Menseregtekommissie, die dorp se stortingsterrein besoek en as ’n belanghebbende geregistreer by ’n mynontwikkeling. AfriForum moniteer ook die bou van die beplande rioolaanleg by Die Oog-landgoed.
AfriForum loods jaarliks landwyd sy blou-en-groen-druppelprojek, stortingsterreinouditprojek en boomplantprojekte en die Naboomspruit-tak neem graag daaraan deel.
Die blou-en-groen-druppelverslag bevestig dat dorpswater geskik is vir menslike gebruik, terwyl die stortingsterreinoudits uitwys waar terreine wanordelik is en nie aan die standaarde voldoen nie.
AfriForum het die afgelope jaar ’n hofbevel bekom wat die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit dwing om die dorp se stortingsterrein in stand te hou.
Die tak het voorts geld aan die droogtehulpfonds geskenk en ook verlede jaar bome aan al die skole in die dorp geskenk.
Die Naboomspruit-tak moedig inwoners van die dorp aan om by die tak betrokke te raak en by te dra tot die positiewe gesindheid van dié organisasie. Bel vir Philip van Staden by tel. 081 330 2606.