Local newsNews

Groot behoefte aan traumaberading

’n Groep vroue van Modimolle het ’n emosionele traumabystandseenheid op die been gebring om mense te ondersteun ná traumatiese gebeure soos plaasaanvalle en motorongelukke.

Volgens Simoné Pienaar, bestuurder van die Waterbergstreek-nooddienste (EMS), is daar ’n behoefte aan mense wat emosionele bystand kan verleen ná ontstellende gebeurtenisse. “Die polisie en ambulansdienste vervul hul belangrike rolle, maar dikwels is daar nie iemand wat die slagoffer en hul families onmiddellik emosioneel kan bystaan nie,” het sy gesê.

Van die vroue het reeds opleiding in emosionele bystand, maar almal sal verdere opleiding ontvang. ’n Plek van veiligheid word ook ingerig vir mense wat inderhaas slaapplek vir ’n nag of twee nodig het. “Wat maak ’n mens as ’n ma met twee kinders skielik in die middel van die nag plek nodig het om te slaap?”

Die groep benodig nog inwoners om hul by te staan. Pienaar waarsku egter dat nie almal toegerus is om op ontstellende tonele te werk nie. Hulle is dikwels van die eerste mense wat op tonele opdaag. “Mense kan egter in so baie ander opsigte help. Ons benodig hande vir praktiese dinge soos om medikasie af te lewer, na mense se huise of troeteldiere om te sien terwyl hulle nie kan nie of om kos af te lewer,” het sy verduidelik.

Die groep hou eersdaags ’n wildsvleisete by die Strijdomhuis in Modimolle om geld in te samel sodat die plek van veiligheid toegerus kan word. Mense wat kan help met skenkings soos beddens en verf sal waardeer word. Hulp is ook nodig met arbeid en die installering van ’n badkamer. Ou klere, teddiebere vir jong kinders en badbederfies sal ook welkom wees.

Die wildsvleisete word op Saterdag 7 Maart om 16:00 aangebied. Jannie du Plessis sal musiek verskaf terwyl gaste onder die koeltebome voor die Strijdomhuis kuier of deur die historiese huis stap. Die koste beloop R150 per persoon en kinders onder agt jaar kan gratis eet. Pensioentrekkers se kaartjies kos R90. Wegneemetes is ook beskikbaar. Gaste kan hul eie stoele, koelbokse en eetgerei bring. Besprekings moet teen Maandag 24 Februarie gemaak word by tel. 082 876 3772.

Vir meer inligting oor die projek, bel vir Pienaar by tel. 076 400 9532.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button