Local newsNews

Konsternasie toe polisiebarakke in vlamme opgaan

“Ons sal ondersoek instel of dit brandstigting was of dalk ’n elektriese fout wat die brand veroorsaak het.”

Die ou polisiebarakke in Kroepstraat in Modimolle het verlede week vir ’n vlammeskouspel gesorg toe dit aan die brand geslaan het.

Die ou houtgebou is jare reeds in onbruik, het AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, gesê. Dit is langs die ou polisiekantien, agter die polisiestasie, geleë.

Vier jong kinders is in 2017 aangekeer nadat hulle ’n brand by dié gebou veroorsaak het toe hulle vermoedelik daar skelm gerook het.

AO Pieter Booyse het op Donderdagmiddag 30 Januarie buite die vuurwapeneenheid gestaan en rook gesien, het Findlay gesê. “Hy het besef dat dit die ou barakke is wat brand. Daar was brandslange by die kantien en hy kon dadelik begin om die vlamme te blus.

Die brandweer is ook ontbied,” het hy gesê. Die gebou, ’n houtstruktuur, het baie vinnig afgebrand, hoewel die puin dae later nog gesmeul het.

“Ons sal ondersoek instel of dit brandstigting was of dalk ’n elektriese fout wat die brand veroorsaak het,” het Findlay gesê.

Related Articles

Back to top button