Sake-eienaar, Modimolle, skryf:
Ons sakeonderneming se depot is 24 uur oop.
Weggooidiere word dikwels in ons omgewing afgelaai en hier is dus ’n oorloop van rondloperkatte.
Ons is ontsteld nadat een van ons kliënte gedreig het om gif uit te gooi vir rondloperkatte wat op ons perseel is omdat hy glo allergies is vir katte.
Sy uitlating is uiters kortsigtig en dié optrede sal ’n groot gevaar vir mense in die omgewing inhou. Van ons kliënte is ouers met kinders wat hulle vergesel wanneer hulle sake kom doen. Van dié kinders speel met die katte of hardloop op die terrein rond.
Talle voetgangers, ook dikwels saam met hul kinders, gebruik die grondpad langs ons onderneming. Indien ’n kind van die gif inkry, sal dit tot ’n groot tragedie lei.
Selfs al is die diere lastig vir sommige mense, mag hulle nie vergiftig word nie.