Volgens inligting van die provinsiale polisie was daar vanaf Maandag 6 Januarie tot op Donderdag 23 Januarie 26 mense as vermis deur hul families gerapporteer.
Die areas waar die persone verdwyn het, sluit in Hlogotlou buite Groblersdal, Thohoyandou, Giyani, Lebowakgomo, Polokwane, Tzaneen, Makhado en twee in Bela-Bela.
Sewe van die vermistes is jonger as 20. ’n Tweejarige, van Lebowakgomo, is ná ’n soektog van twee dae op Woensdag 15 Januarie sowat 10 km van sy huis, ongedeerd, in die veld gevind. Volgens die polisie is hy dadelik na ’n kliniek gehaas en ná behandeling vir dehidrasie ontslaan.
Verder is drie van die vermistes tussen 20 en 30 jaar oud, ses tussen 30 en 40, drie tussen 40 en 50, een tussen 50 en 60 en vier persone is ouer as 60.
Volgens die verklarings in meeste van die gevalle, het die vermiste persone geen van hul naastes in kennis gestel dat hulle vir geruime tyd afwesig gaan wees nie, maar slegs vir normale aktiwiteite weg van hul huise sal wees. Een van die vermiste volwassenes is glo verstandelik gestremd.
Twee van die jongmense het hul wonings verlaat om skoolboeke te gaan afhaal en die ander om by ’n tersiêre inrigting in te skryf, volgens die verklarings.
Die twee vermiste persoonsake van Bela-Bela, Tshegofatso Tlou Mogotsi (22) en Johanna Karabo Baloyi (27) word steeds ondersoek.
Mogotsi het verdwyn nadat hy by Unisa wou gaan registreer het. Baloyi het in Junie 2018 vermis geraak, nadat sy by familie in Hammanskraal gaan kuier het en nooit na Bela-Bela teruggekeer het nie.
Volgens die polisieverklarings blyk dit dat Baloyi se familie haar eers in Januarie vanjaar as vermis aangemeld het.
Die provinsiale polisie het teen druktyd geen verdere inligting aangaande die vermiste mense bekend gemaak nie.
Sers. Frans Maponya, Bela-Bela-polisiewoordvoerder, het by navraag gesê die polisie kan nie bevestig of van die mense ontvoer is nie. Elke saak word op eie meriete hanteer.
Die polisie het die afgelope week weer die publiek, veral ouers, gewaarsku, om ten alle tye te weet waar hulle kinders is.