Deon Kotzé, Johannesburg, skryf:
Ek het die afgelope naweek net weer bevestiging gekry dat die ondersteuningsnetwerk nog op die platteland bestaan en beslis in Bela-Bela merkwaardig is.
Die AA-padbystanddiens het Grobbies Insleepdienste van Bela-Bela gekontrakteer om ’n voertuig wat met ’n elektroniese probleem onklaar geraak het van Bela-Bela na Pretoria te verskuif. Die bestuurder van die insleepvoertuig, William, was baie bekwaam en het alles in sy vermoë gedoen om die voertuig veilig op te laai.
Die logistieke struikelblok was egter om toegang te verkry vir die insleepvoertuig in ’n beperkte ruimte en ’n voertuig waarvan die stuurstelsel gesluit was.
Ná slegs een oproep was die eienaar, Bertus Grobler, die werkwinkelbestuurder, Fanie van Blerk, en nog ’n personeellid daar om die probleem te oorbrug. Hul het nie geskroom om ander kundige hulp in te roep nie en die voertuig is veilig opgelaai en na Pretoria vervoer.
Julle diens is puik en ek kan julle met groot vrymoedigheid aanbeveel.