Maureen Neethling, Kokanje, Modimolle, skryf:
Ná maande lange gespook om ’n dokument by die Modimolle-lisensiekantoor te bekom, het daar ’n vriendelike oproep gekom van ene Sollie om te sê dat ek die dokument kan gaan afhaal.
Omdat my motor onlangs gesteel is (nogal voor ’n kerk in Pretoria!) het ek ’n saamrygeleentheid by ’n besorgde vriendin gekry. Met my kierie en ’n effens bedrukte gemoed is ek by die lisensiekantoor in.
Daar was baie mense wat in lang rye gestaan en wag het. ’n Netjiesgeklede man het uit die ry beweeg en in die gang afgeloop en teruggekom met ’n stoel vir my. Sy naam is Phinias en hy werk by Isuzu in Modimolle. Hy het my dadelik na ’n toonbankvenster geneem en met ’n harde stem geroep na personeel wat my sonder enige huiwering gehelp het.
Phinias het gevra hoekom ek die spesifieke dokument benodig en ek het hom vertel van die diefstal van my voertuig en dat ek ’n nuwe voertuig sal moet koop.
Hy het sonder huiwering vir Peter Motaung by Isuzu aanbeveel. Nadat ek gesê het dat ek eintlik ’n ander fabrikaat wil koop, het hy my steeds met goeie raad bedien en nog name van kontakpersone vir my gegee wat kan help.
Ek het verstom gestaan oor dié opregte heer se bedagsaamheid en hulpvaardigheid. Hy moet sekerlik sy werksplek se trots wees.
Ons het gegroet en toe ek my hand stewig op my kierie het, het ek gesien hoe hy die stoel optel en weer gangaf dra tot na die plek waar hy dit gekry het.
Dankie dat jy my trots gemaak het om ’n inwoner van Modimolle te wees. Ek hoop dat ek eendag ook vir jou, Phinias, ’n klip uit die pad kan rol.