BlogsOpinion

Hoofartikel: ’n Mooi woord vir ontgroening

Indien ’n skool nie ten volle deursigtig is oor oriëntering en die veiligheid van kinders tydens ’n kamp of program kan waarborg nie, kan hulle nie hul hande in onskuld was indien daar ’n ongeluk gebeur nie

Die tragiese dood van ’n gr. 8-leerder van Parktown Boys’ High School, Enoch Mpianzi, tydens ’n oriënteringskamp in Noordwes, noop ’n mens om die hele kwessie rondom hierdie “tradisie” dalk wéér onder die vergrootglas te plaas.

Want dit is ’n onderwerp wat baie maklik onder die mat ingevee en bedek word met ’n sagte woord soos “oriëntering”. Om die woord “ontgroening” te vervang met ’n woord wat polities meer korrek is, het egter oor die afgelope paar dekades bittermin verander aan veral hoërskole se toepassing van dié tradisie.

 

Foto: pexels

 

Nog ’n salf wat maklik oor die tradisie gesmeer word, is die argument dat dit goeie dissipline in ’n skool kweek. ’n Mens wonder hoe Enoch se ouers oor hierdie stelling sal voel.

Die argument dat ’n tragiese ongeluk tydens enige ander skoolaktiwiteit kon gebeur, dra ook nie werklik water nie. Dié soort ongelukke gebeur net té dikwels juis tydens oriënteringsaktiwiteite.

Kom ons los die skynheiligheid by die agterdeur en kyk dié tradisie vierkantig in die oë, want by die meeste skole word oriëntering steeds as volg hanteer:

  • Dit is die skool se matrieks of leerderraad wat die aktiwiteite tydens oriënteringsaktiwiteite lei en ’n duidelike stempel van “senior” gesag afdruk.
  • Die gr. 8’s word tot in die middernagtelike ure wakker gehou en hulle is doodmoeg. Op hierdie wyse breek ’n mens hulle weerstand glo af en dan kan die skool hulle weer “opbou”. Alles in die naam van trots en tradisie.
  • Net ’n handjievol onderwysers is by hierdie oriënteringsaktiwiteite betrokke en daar is geen wyse waarop ’n skool ouers kan waarborg dat alle leerders te alle tye onder die volwasse toesig van ’n onderwyser is nie.

En tog stel skole regoor die land jaarliks aan die begin van die skooljaar hul gr. 8’s, matrieks én toesighoudende onderwysers bloot aan omstandighede wat hul lewens én loopbane kan vernietig.
Natuurlik is dit nodig om nuwe gr. 8’s by ’n skool te verwelkom. Om hulle te leer oor ’n skool se instellings en reëls. Natuurlik kan ’n mens aktiwiteite aanbied om spangees te kweek — mits dié aktiwiteite enige tyd van die dag of nag deur ouers bygewoon kan word, verkieslik op die skoolterrein plaasvind en leerders saans veilig onder hul ouers se dak kan slaap.

Indien ’n skool nie ten volle deursigtig is oor oriëntering en die veiligheid van kinders tydens ’n kamp of program kan waarborg nie, kan hulle nie hul hande in onskuld was indien daar ’n ongeluk gebeur nie en stel hulle toesighoudende matrieks en onderwysers bloot aan ’n gevaarlike situasie.

’n Mens wonder hoeveel leerders nog met hul lewens moet boet voordat skole se beheerliggame indringend kyk na hul skole se oriënteringspraktyke.

Related Articles

Back to top button