Hierdie topleerders en -onderwysers in die Waterberg-distrik is op Vrydag 17 Januarie by Forever Resorts in Bela-Bela vir hul harde werk vereer. Hoërskool Warmbad se matrikulante en onderwysers het veral geskitter.
Die Warries het onderskeidelik die derde plek (Christiaan Vosloo) en vierde plek (Corné de Jonge) onder die Waterberg-distrik se toptien behaal.
Corné is ook aangewys as die beste leerder in fisiese wetenskap, ingenieursgrafika en -ontwerp, rekeningkunde en wiskunde.
Die ander Warrie-matrikulante wat toekennings ontvang het, was Gabrielle Kansay (beste presteer in English Home Language), Zaheeda Saloojee (Afrikaans eerste addisionele taal) en Kayla du Pisani (toerisme).
Die Waterberg-distrik het ook twee van Hoërskool Warmbad se onderwysers, Francois du Plessis en Marion Verwey uitgesonder as die twee beste wiskunde onderwysers van dié distrik. Hulle spog met ’n wiskunde slaagsyfer van 96,8%.
Die topdrieprovinsies was die Vrystaat (met ’n slaagsyfer van 88,4%), Gauteng (87,2%) en Noordwes (86,8%).
Die toptiendistrikte in Limpopo wat die beste presteer het, was Vhembe-Oos (81,5%), Waterberg (81,4%), Vhembe-Wes (80%), Capricorn-Suid (75,3%), Mopani-Oos (72,4%), Capricorn-Noord (68,9%), Mogalakwena (68,6%), Sekhukhune-Suid (68,4%), Mopani-Wes (68%) en Sekhukhune-Oos (63%).
In die Waterberg-distrik het die Lephalale-kring die nommereenposisie ingeneem met die Thabazimbi-kring kort op hul hakke en Warmbad-kring in die derde plek. Palala-Suid was vierde, Modimolle vyfde, Vaalwater sesde, Mookgophong sewende, Palala-Noord agste en Dwaalboom negende.