’n Saak van strafbare manslag word deur die Pienaarsrivier-polisie ondersoek nadat vyf mense op Saterdagoggend 18 Januarie op die N1-snelweg verongeluk het. Die ongeluk het ongeveer 1 km suid van die Mantsole-weegbrug plaasgevind. Sers. Frans Maponya, Bela-Bela-polisiewoordvoerder, het by navraag gesê die oorledenes was van Diepsloot afkomstig. Hulle was na Gauteng onderweg. Die oorledenes, vier mans en ’n vrou, het in ’n Ford Figo gereis wat teen ’n stilstaande trok gebots het. Die trokdrywer en sy kollega is nie beseer nie. Al die oorledenes was teen druktyd nog nie uitgeken nie. Op die foto is die wrak kort nadat die ongeluk plaasgevind het.
Lede van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) in Bela-Bela het op Vrydag 17 Januarie pannekoek voor die Bela-Bela Superspar gebak as deel van hul eerste fondsinsameling vir die jaar. Die vroue het ook pannekoeke vir Rusoord Tuiste vir Bejaardes en Huis Tekna geskenk. Op die foto is Sontie Nkhumuishe (Huis Tekna), Stephanie Henning (SAVF-lid) en Susan de Klerk (SAVF-voorsitter) by die stapel pannekoeke wat die lede gebak het.