CrimeNews

Inwoners warm onder die kraag oor tweede optog

’n Groot groep mense het reeds vroegoggend op Woensdag 8 Januarie saamgedrom en toe begin met hul opmars na die hof.

Inwoners en sakelui van Mookgophong was verlede week baie ontevrede toe daar ’n brief die ronde gedoen het dat alle ondernemings hul deure op Woensdag 8 Januarie moet sluit weens ’n beoogde optog na die plaaslike landdroshof.

Die optog spruit uit ’n insident in November 2019 toe ’n verdagte in die hof moes verskyn op ’n aanklag van moord en inwoners ontevrede was met die optrede van die plaaslike polisie.

’n Groot groep mense het reeds vroegoggend op Woensdag 8 Januarie saamgedrom en toe begin met hul opmars na die hof. Die landelike veiligheidsgroep, gemeenskapspolisiëringsforum en ander organisasies het hul lede bymekaar gekry om die optog saam met die polisie te moniteer. Daar was geen voorvalle van saakbeskadiging soos tydens die vorige optog nie.

Izekiel Kutumela, woordvoerder van die groep wat hulself Mookgophong Development Forum noem, het aan Die Pos gesê hulle doel was nie om enige onderneming skade te berokken nie. Volgens hom is die gemeenskap moeg vir die onvoldoende optrede van die polisie om misdaad te bekamp en misdadigers aan te keer.

Sakelui was egter ontsteld omdat dié soort optrede die dorp se ekonomie strem en ’n veiligheidsgevaar vir inwoners inhou. Daar is ook gesê dat dit ’n slegte beeld van die dorp toon.

Die moordverdagte, Tshepo Mabuela, het die oggend in die hof verskyn en dié saak is uitgestel tot Dinsdag 31 Maart. Hy moet egter weer op Donderdag 23 Januarie in die hof wees op aanklag van moord nadat hy glo vir Phineas Sithole in November verlede jaar by ’n kuierplek vermoor het. Dit was oor dié voorval dat inwoners die strate ingevaar het om hul misnoeë te toon.

“Ons voel dat die polisie en die regstelsel ons in die steek laat. Die polisie daag laat op wanneer daar ’n oproep is nadat ’n misdaad gepleeg is,” het Kutumela gesê.

Kol. Mape Kekana, stasiebevelvoerder van die Mookgophong-polisie, het dié bewerings in ’n vorige onderhoud met Die Pos ten sterkste ontken en gesê die polisie is daartoe verbind om misdaad te bestry.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button