NewsSchools

Dié onnies gee raad oor skoolwerk

Die nuwe skooljaar het afgeskop en die nuus oor skole se toppresteerders se onderskeidings en die slaagsyfers is nog vars in die geheue.

Sommige leerders werk vir A-simbole en ander werk om deur te kom of om toelating vir ’n universiteitskursus te kry. Die Pos het by twee gesoute onderwysers raad gevra hoe leerders hul punte kan verbeter.

Ciska Leonard, hoof van akademie by Waterberg Academy in Vaalwater, glo ’n positiewe aanslag is noodsaaklik. “As jy gefokus, positief en realisties is oor wat jy wil bereik, sal jy sukses behaal met wat jy ook al aanpak.”

Sy raai leerders ook aan om vas te stel waarmee hulle hulp nodig het. Dit is iets wat slegs die leerder self kan doen. “Gaan deur die voorbeelde wat in die klas gedoen is. Wanneer jy leer vir ’n toets of eksamen, werk eers self deur jou huiswerkoefeninge voordat jy na die antwoorde kyk. Dit sal jou ’n goeie idee gee met watter werk jy nog sukkel,” het sy gesê.

Vra as jy nie weet nie

Die goue reël is om aandag in die klas te gee. “Vra as jy nie weet nie. Niemand gaan dink jy is dom as jy vrae vra nie. Jy vra dalk net ’n vraag wat iemand anders te bang was om te vra!”
Wees georganiseerd. “Beplan jou tyd en kies wat is die belangrikste. Gee daagliks tyd aan elke vak. Dit is nooit te laat om te begin om jou werk te hersien nie.”

Verbeter jou vermoë om aantekeninge te neem.

“Maak dit ’n gewoonte om belangrike dinge wat die onderwysers sê, neer te skryf. Navorsing het getoon dat ons inligting beter onthou wanneer ons dit neerskryf eerder as wat ons dit tik,” was haar raad.


Goue raad:
• Vra as jy nie weet nie
• Wees georganiseerd
• Beplan jou tyd
• Vind die regte studiemetode vir jou leerstyl
• Oefen jou geheue
• Begin vroegtydig


Sy moedig leerders ook aan om die regte studiemetodes wat by hul leerstyl pas, te vind.

“Almal leer verskillend. Daar is verskeie intelligensietoetse aanlyn wat jou ’n idee kan gee watter studiemetode die beste sal werk. Sommige mense leer visueel en ander deur beweging. Dan is daar ook die analitiese denkers wat ’n ander leerstyl het.”

Span jou selfoon in

Verbeter jou geheue — daar is baie toepassings beskikbaar op selfone. Gebruik jou tyd op jou selfoon produktief eerder as om deur sosiale media te blaai. Probeer 10-15 minute per dag deurbring om jou geheue te verbeter.

Santie Gildenhuys, departementshoof van tale by Hoërskool Nylstroom, het nog ’n paar belangrike punte bygevoeg vir leer-ders, ouers en onderwysers.

“Wees altyd positief oor jou skoolwerk, woon elke klas by en let op. Maak aantekeninge, selfs al word dit nie vereis nie. Alle vakke berus op taal. Oefen jou taalvaardighede deur volsin WhatsApp-boodskappe te tik,” het sy gesê. “Neem deel aan klasgesprekke en voltooi elke opdrag na die beste van jou vermoë. Verbreed jou kennis deur wyer oor die werk na te lees.”

Ouers moet ’n voorbeeld wees

Volgens Gildenhuys kan ouers hul kinders ondersteun deur belang te stel in hul kinders se skoollewe en deelname aan te moedig. Hulle kan ’n vreedsame atmosfeer tuis skep en sorg vir gesonde peuselgoed. “Rig vir jou kind ’n stil hoekie of kamer in vir skoolwerk doen en ontspan.

Respekteer jou kind se unieke eienskappe en bly kalm tydens meningsverskille.

Ouers moet ten alle tye vir hul kinders ’n voorbeeld wees in werkywer, meelewing met ander en met uithouvermoë,” was haar raad.

Sy glo dat onderwysers die beste resultate met leerders sal behaal as hulle energiek is en die leermateriaal elke jaar vars aanbied. “Leer jou leerders se harte ken en kyk verby beuselagtighede wat nie belangrik is nie.

Dit is nodig om op hoogte te bly van kinders — en veral tieners — se leefwêrelde.

’n Mens moet jou leerders elke dag motiveer om hoop te hê in enige situasie,” het sy gesê. “Deel jou menswees en ervaring deur met hulle te gesels oor alledaagse sake soos verhoudings, beroepe en hulle drome.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button