Local newsNews

Rioolprobleem raak ondraaglik

“Ons kan dit nie meer uithou nie. Ek het al alles in my vermoë gedoen om die probleem op te los, maar nou weet ek nie meer nie.”

Stinkende riool het vanjaar al meer as tien keer in Alice (72) en Vonnie (74) Slabbert se erf, lapa en motorhuis in Gholfpark in Mookgophong opgestoot.

Die egpaar, wat al 13 jaar lank in die huis woon, is radeloos.

“Ons kan dit nie meer uithou nie. Ek het al alles in my vermoë gedoen om die probleem op te los, maar nou weet ek nie meer nie,” het Vonnie vandeesweek aan Die Pos gesê.

Volgens hom het hy die probleem al verskeie kere, sonder enige oplossing, by die munisipaliteit aangemeld. Wat hom die meeste pla, sê hy, is dat daar geen skriftelike terugvoer op sy e-posse is nie.

Slabbert se klagtes is uitgespel in ’n brief wat op Vrydag 11 Oktober in Die Pos verskyn het. Die riool het sedert April vanjaar tien keer in sy motorhuis, lapa en Alice se werksvertrek opgestoot en hulle moes die onwelriekende gemors opruim.

Volgens Slabbert verstop die rioolpyp telkens en dan borrel die riool tot in hul erf en tot op die stoep. Tydens een van die oorspoelings het Alice gegly en in die gemors geval. Sy het sedertdien ’n infeksie in haar been wat nie gesond wil word nie, sê hy.

Slabbert het selfs al ’n afvoersloot in hul plaveisel gemaak om te kyk of dit nie sal help nie.

Slabbert sê hy het op Woensdag 3 April briewe per hand aan Marlene van Staden, die burgemeester, se persoonlike assistent oorhandig. Hy sê hy het sedertdien nege keer briewe aan die munisipaliteit geskryf. Hy het dié briewe aan Die Pos getoon.

Hy het al so ver gegaan as om ’n emmer riool voor DA-raadslid Hercules Louw se deur te gaan neersit, het hy aan Die Pos gesê.

Van Staden het oor dié beweringe gesê dat sy die Slabberts reeds twee keer besoek het en opdrag aan die tegniese bestuurder en die munisipale bestuurder gegee het dat ’n kamera in die stelsel gesit moet word om die probleem te identifiseer. Sy het gesê dat daar al wortels uit die pype gekap is om te kyk of dit die probleem kan oplos.

“Ek en Magodi Phumudzo, die tegniese bestuurder, het op 11 en 20 September na die Slabberts toe gery om self na die probleem te gaan kyk. Ek het begrip vir die toestand en verstaan hul frustrasie,” het sy gesê.

Thabang Selemela, afdelingsbestuurder van die munisipaliteit se water en sanitasie departement, het op Maandag 7 Oktober in ’n boodskap aan Van Staden gesê dat sy afdeling die huis besoek het en dat die probleem deur ’n huishoudelike blokkasie, as gevolg van wortels in die pype, veroorsaak word. Die munisipale rioolpyp is volgens hom “skoon”. Van Staden het gesê dat die rioolstelsel baie oud is en aandag moet geniet.

En intussen sit die Slabberts steeds met die stinkende riool in hul erf.

Josef Staub, wat net agter die halfvoltooide winkelsentrum in die dorp woon, sê hy dien sedert 2016 klagtes oor die rioolprobleem by sy raadslid, asook by die burgemeester, in. Hoewel die probleem in 2017 tydens ’n geïntegreerde ontwikkelingsplanvergadering aangemeld is, is daar volgens Staub niks daaraan gedoen nie. Wanneer dit rëen en water in die winkelsentrum se omgewing opdam, stoot riool in die toilette op.

  • Die Pos het op Vrydag 29 November berig oor die rioolprobleme wat die dorp teister.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button