Local newsNews

Oud-Warrie sterf in motorongeluk

Vir Dewald se familie is sy dood “seer en onwerklik” en ’n groot skok vir sy vriende.

Oud-Warrie Dewald Hattingh (24) is op Vrydag 29 November dood ná ’n motorongeluk net buite Bela-Bela.

Dewald was die seun van ds. Bernard en Yvonne Hattingh, leraarpaar by die Gereformeerde Kerk in die dorp.

Volgens sers. Frans Maponya, Bela-Bela-polisiewoordvoerder, het die ongeluk op die R516-oorbrug op die pad tussen Bela-Bela en Settlers plaasgevind. Dewald se jarelange vriendin, Genique Berning, was saam met hom in die voertuig.

Dewald het volgens die polisie op die afrit in die rigting van Settlers gedraai toe ’n bakkie van die departement van gesondheid oor die brug in die rigting van Bela-Bela gery en teen sy voertuig gebots het.

Genique is in die hospitaal opgeneem, maar Dewald is op die toneel oorlede. Die bestuurder van die bakkie het net ligte beserings opgedoen.

Vir Dewald se familie is sy dood “seer en onwerklik” en ’n groot skok vir sy vriende.

Volgens ds. Bernard gaan dit beter met Genique en is sy reeds uit die hospitaal ontslaan met beserings aan haar nek en arm.

Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.

Dewald is in Durban gebore en het in Amanzimtoti grootgeword waar sy pa predikant was. Hy was ’n leerder van die Kuswagskool in Amanzimtoti.

Nadat die familie in 2006 na Bela-Bela verhuis het, het Dewald by Laerskool Warmbad ingeskakel en later aan Hoërskool Warmbad gematrikuleer.

Hy het veral in karate uitgeblink en het ’n swart gordel, asook Limpopo-kleure verwerf.

Hy het ook ’n passie vir musiek gehad.

Hy het ná skool in Mbombela (Nelspruit) by musiekproduksies betrokke geraak en ’n internasionale diplomakursus in klankproduksie met lof geslaag. Daarna het hy vir ’n jaar vir OnShelf Pharma sake in verskeie dorpe gedoen en toe by Toeka se dae-padstal buite Bela-Bela begin werk.

Hy het in 2018 met sy onderwysstudies deur Aros-kampus in Pretoria begin.

Hy en Genique het saam as hulponderwysers by Laerskool Voortrekker Eeufees in Pretoria beland. Die twee was juis die aand van die ongeluk op pad terug na Bela-Bela ná ’n vergadering by die skool. Dewald wou vir Genique by haar huis in die Settlers-omgewing gaan aflaai.

Peet Grobler, vriend, het aan Die Pos gesê Dewald was ’n baie vriendelike mens en het sy vriende bygestaan al het dit met hom self moeilik gegaan.

Heino Gernandt, ook ’n vriend, het gesê dit was ’n voorreg om ’n unieke vriend soos Dewald te kon hê.

Coenie Naudé, Dewald se neef, het hom beskryf as ’n man met die mooiste hart en iemand wat geen slegte gevoelens teenoor ander gekoester het nie.

Reint van der Pol, Genique se stiefpa, het gesê Dewald was ’n buffer en bemiddelaar vir Genique. Hy het ook eer betoon aan Bernard en Yvonne wat Dewald goed opgevoed het as ’n “man uit een stuk”.

Dewald se begrafnis vind op Vrydag 6 Desember plaas. Die graf kan om 09:00 besoek word en die diens is om 11:00 by die Gereformeerde Kerk. Al sy vriende is welkom om saam na die graf te gaan, het ds. Bernard gesê.

Dewald laat sy ouers en ’n suster, wat in Engeland woon, agter.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button