Local newsNews

Goeie waternuus vir dié twee dorpe

Die nuwe Sondela-pompstasie wat op Vrydag 29 November buite Bela-Bela geopen is, is baie goeie nuus vir die droogtegeteisterde Bela-Bela- en Modimolle-Mookgophong-munisipaliteite.

Die pompstasie is deur Magalies Water gebou en het R88 miljoen gekos. Dié nuwe stasie moet watertoevoer na die Bela-Bela- en Modimolle-Mookgophong-munisipaliteite vanaf die Klipdrift-dam verbeter.

Afgevaardigdes van albei munisipaliteite, Magalies Water, asook die provinsiale regering, was tydens die amptelike opening van die pompstasie teenwoordig.

 

Die opening van Magalies Water se Sondela-pompstasie is die afgelope week wyd verwelkom. Op die foto is Marlene van Staden (Modimolle-Mookgophong se burgemeester), Basikopo Makamu (LUR van die departement van samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake), en Jeremiah Ngobeni (Bela-Bela-burgemeester) tydens die opening van die pompstasie.

 

Luidens ’n verklaring van Magalies Water is die Klipdrift-watersuiweringswerke in 2018 opgegradeer om 42 megaliter water per dag na Limpopo te pomp, maar weens tegniese probleme kon dié hoeveelheid water nie verskaf word nie.

Die Klipdrift-waterbehandelingsaanleg het in 1995 water aan drie noordelike munisipaliteite begin verskaf deur die 100 km lange pyplyn van naby Roodeplaatdam in Gauteng af. Die aanleg is verlede jaar opgegradeer tot 42 megaliter ’n dag, maar ’n opgradering van die Sondela-pompstasie was nodig om meer water aan Modimolle te kon lewer.

Danksy die nuwe pompstasie is die watertoevoer na Bela-Bela, Modimolle en Mookgophong van 10 megaliter per dag na 16 megaliter per dag opgestoot en behoort dit op te maak vir die aanvraag.
Magalies Water het gesê die nuwe pompstasie het nie nuwe poste geskep nie aangesien die stasie vanaf die Klipdrift-aanleg beheer word.

Die nodige veiligheidsmaatreëls is ook getref om enige tegniese probleme die hoof te kan bied.

Kragonderbrekings sal nie die watertoevoer na die twee betrokke munisipaliteite beïn-vloed nie; behalwe dat die water stadiger sal vloei, het Magalies Water gesê.

Jeremiah Ngobeni, Bela-Bela-burgemeester, en Marlene van Staden, Modimolle-Mookgophong-burgemeester, het die opening van die pompstasie verwelkom.

Pres. Cyril Ramaphosa het die afgelope week in ’n nuusbrief gewaarsku dat watersekerheid een van die land se grootste ekonomiese en ontwikkelingsuitdagings kan word.

  • Die afgelope week se watertekorte in Modimolle is glo veroorsaak deur onderhoudswerk by die Klipdrift-wateraanleg.

Related Articles

Back to top button