CrimeNews

Dien vuurwapens sonder lisensies in

Inwoners met vuurwapenlisensies wat nie op datum is nie, kan gebruik maak van die amnestietydperk wat die polisie van 1 Desember tot 31 Mei bied.

Volgens AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, kan vuurwapens by die aanklagkantoor ingedien word sonder dat enige vrae gevra sal word. Diegene wat lisensies het wat verval het, kan die wapens indien en binne 14 dae ’n nuwe aansoek om ’n lisensie doen om hul wapens terug te kry.

Die nodige vorms kan by die vuurwapenlisensie-afdeling verkry word. Daar is volgens Findlay twee vorms. Die een vorm dui aan dat die regering die wapen mag vernietig, terwyl die ander een ’n nuwe aansoek om ’n vuurwapenlisensie is. Dit is nie ’n hernuwing nie.

“Ons herinner mense daaraan dat dit ’n kriminele oortreding is indien hulle in besit is van ’n wapen wat nie ’n geldige lisensie het nie. Hulle kan vervolg word,” het hy gesê.

Die organisasie Gun Free SA het die amnestietydperk verwelkom in die lig van die gewelddadige toestand waarin die land verkeer. Volgens hulle wys die nasionale misdaadstatistieke dat vuurwapens die grootste oorsaak van moorde in die land is. In Gauteng het geweerskote meer mense se dood veroorsaak as motorongelukke.

“As die 2019/20 amnestie uitgevoer word as deel van ’n breër strategie wat daarop gemik is om die bestaande wapens terug te kry en te vernietig en die verspreiding van nuwe wapens na gemeenskappe beperk, het dit die potensiaal om Suid-Afrika se krisis met vuurwapens om te swaai,” het Adèle Kirsten, direkteur van Gun Free SA gesê.

Related Articles

Back to top button