Local newsNews

Kwekers vier genadejare

Die Vlakte Orgidieëvereniging (VOV) het op Saterdag 23 November hul 20ste bestaansjaar tydens hulle maandvergadering gevier.

Die vereniging bied ’n kuiergeleentheid vir liefhebbers van orgidieë sedert dit in Januarie 1999 gestig is. Die lede is kwekers wat van so ver as Mokopane, Mookgophong, Modimolle en selfs Pretoria kom.

Die vergadering is by Panorama Country House net buite Mookgophong gehou en Riaan de Villiers, voorsitter, het die vergadering gelei. Die ete is deur Ronél Eksteen gereël.

Die vereniging bestaan uit 35 lede waarvan 17 saamgekuier het. Ronél Eksteen is bekroon as die Kweker van die Jaar, danksy haar pragtige Brassia verrucosa.

Die trofee, wat deur De Villiers aan haar oorhandig is, word jaarliks toegeken aan die lid wat die meeste kere as kategoriewenner aangewys is.

Die bestuur word elke tweede jaar verkies en die huidige bestuur is vanjaar eenparig herverkies.

De Villiers is weer herkies tot voorsitter en Albert van Niekerk as ondervoorsitter. Delia Bogaards, wat sedert 2012 die sekretaresse is, is ook herverkies.

Die lede kon hul orgidieë wat blom, ten toon stel.

Die klub vergader gewoonlik elke ses weke op ’n Saterdag omdat hulle so ver van mekaar woon. Geleentheidsprekers praat gedurende die jaar oor verskeie onderwerpe.

Die doel van die vereniging is om die kweek van orgidieë te bevorder en die plante in hul natuurlike habitat te bewaar.

Die lede, wat geesdriftig oor dié besondere plante is, nooi lesers om aan te sluit en deel te neem aan die wonderwêreld van katleyas, dendrobiums, onsidiums, simbidiums, zygopeliums en vele meer. Vir meer inligting bel vir Delia Bogaards by tel. 081 4777 374.

Related Articles

Back to top button