Local newsNews

Bek-en-klouseer se angel steeds nie uit

Bek-en-klouseer is reeds op altesame tien plekke in Limpopo gevind en teen druktyd vandeesweek was daar sprake dat die huidige veeveilingsverbod na die hele land uitgebrei kan word.

Die pre­sie­se oor­sprong van die bek-en-klou­seer-uit­braak is egter nog nie bekend gemaak nie.

Die siek­te het in die Mo­le­mo­le-om­ge­wing noord van Po­lok­wa­ne uit­ge­breek.

Die de­par­te­ment van landbou, bosbou en visserye het er­ken dat dit die­self­de soort virus is as wat in Jan­uarie vanjaar in die Vhem­be-dis­trik uitgebreek het.

Die de­par­te­ment het die afgelope week in ’n ver­kla­ring be­kend­ge­maak dat daar nou reeds 10 plekke — almal in Limpopo — is waar diere positief getoets is.

’n Ver­bod is die afgelope drie weke op al­le vee­vei­lings in Lim­p­opo, Gau­teng, Noord­wes en Mpuma­la­nga van krag.

Volgens die de­par­te­ment heers streng be­heer­maat­reëls by die ge­af­fek­teer­de ab­attoirs, voer­kra­le, vee­kra­le en ­pla­se om ver­de­re ver­sprei­ding te keer. Die departement plaas die blaam vir die ver­sprei­ding van die siek­te op mense wat besmette diere versprei het. Boere, veilings­huise en ander betrok­kenes in die land­bou­bedryf wys egter weer vingers na die departe­ment en sê die regering het in Januarie voete gesleep met die toe­passing van beheer­maatreëls en doen dit nou weer.

Die de­par­te­ment raai steeds mense in die vee­be­dryf aan om van staats- of pri­vaa­t vee­art­se ge­bruik te maak om hul die­re te toets en om on­der geen om­stan­dig­he­de vee te ver­voer nie tensy diere siek­te­vry ver­klaar en trok­ke ge­ste­ri­li­seer is.

Vol­gens in­lig­ting van die Bek-en-Klou­seer­fo­rum (BK Forum) wat on­langs in Be­la-Be­la ge­stig is, is vee­boe­re on­der druk om vee vir ’n in­koms­te te ver­koop en kan dit ge­beur dat hul­le nie ge­hoor gee aan die re­ge­ring se ver­soe­ke dat geen vee ver­voer mag word nie.

Die uitbraak kan gestuit word indien alle betrokkenes hul vol­le sa­me­wer­king gee, maar omdat die presiese oor­sprong van die huidige uitbraak nog nie vas­ge­stel is nie, kan die ver­bod selfs langer duur as wat aanvank­lik vermoed is.

Die forum waarsku dat mense wat hul vee op on­wet­tige vei­lings ver­koop, die kans staan om uit­ge­buit te word en die hele bedryf weens hul eie kort­sig­ti­gheid kan kelder. Die fo­rum stel voor dat vee­boe­re ge­duldig moet wees en wag totdat die verbod opgehef word.

Related Articles

Back to top button