NewsSchools

Topleerders ontvang toekennings vir hul harde werk

Die Euphorbia Christelike Onafhanklike Skool in Mookgophong het einde November hul jaarlikse prysuitdeling gehou waartydens die topleerders met toekennings vereer is.

Waldo Hoffmann is die skool se beste senior veldatleet (seuns), senior Victor Ludorum, o.11-rugbyspeler van die jaar, o.11-kolwer en bouler van die jaar, o.11-krieketspeler van die jaar, asook sportseun van die jaar. Waldo het ook provinsiale kleure in atletiek verwerf.

 

Wynand Schalekamp is verkies as die skool se nuwe hoofseun vir 2020. Wynand het ’n vakprestasie vir gr. 6 ontvang met ’n gemiddeld bo 80%. Hy is aangewys as senior seunswemmer van die jaar, o.13-kolwer van die jaar, eerstespan krieketspeler van die jaar, asook sterkrieketspeler van die jaar.

 

Ané Pretorius is die nuwe hoofmeisie vir 2020. Sy het ’n toekenning vir die hoogste akademiese prestasie in haar graad verower, was die toppresteerder in gr. 6, het provinsiale kleure vir perdry behaal en is aangewys as ruiter van die jaar. Voorts is sy vereer vir buitekurrikulêre deelname aan nasionale kampioenskappe en het weggestap met die hoogste buitekurrikulêre prestasietoekenning.

 

Isebelle de Beer is aangewys as die Dux-leerder van die jaar. Isebelle is verder vereer as die senior Afrikaanse en Engelse redenaar van die jaar. Sy is ook aangewys as senior meisieswemmer van die jaar en is vereer as ambassadeur van die jaar.

 

Chinika Pretorius het die trofee vir onbaatsugtige diens en die akademiese meriete-toekenning (10 vakke bo 80%) verower. Sy is ook vir haar prestasies in netbal tydens die Bokkieweek vereer.

 

Lené de Bruin het met die trofee vir hoflikheid, asook akademiese prestasie (vyf vakke bo 80%) weggestap. Voorts is sy aangewys as die o.11-netbalspeler van die jaar.

Related Articles

Back to top button