Die familie van Jurgens Oberholzer (64) van Bela-Bela, wat verlede week onder raaiselagtige omstandighede gesterf het, bied ’n beloning aan vir inligting wat lig kan werp op die voorval op Maandag 4 November op die hoek van Chris Haniweg en Pretoriastraat waarin Oberholzer betrokke was.
Oberholzer, ’n pensioentrekker, is glo helder oordag op dié hoek naby Scribble & Skryf deur ’n vreemde man “vasgedruk” terwyl omstanders gestaan en toekyk het.
’n Ander inwoner het glo die relletjie gesien en oor die straat gestap om Oberholzer te hulp te snel. Dít het glo die omstanders laat spaander.
’n Geskokte Oberholzer is na die Warmbad-hospitaal geneem waar hy dieselfde dag dood is. Sover die polisie kon vasstel is niks van hom gesteel nie.
Die presiese oorsaak van sy dood word steeds ondersoek, maar volgens sy familie het hy geen sigbare beserings aan sy lyf gehad nie.
Volgens sy familie was hy voor sy dood fiks, gesond en altyd besig met ’n projek.
“Hy was bekend as vredemaker en ’n goeie mens” het ’n familielid aan Die Pos gesê.
“Die familie het besluit om ’n beloning van R5 000 uit te loof aan enigiemand wat weet wie die man is wat vir Oberholzer vasgedruk het of meer inligting het wat die polisie met hul ondersoek kan help,” het die familielid gesê.
Oberholzer is op Saterdag 16 November vanuit die AGS-kerk in die dorp begrawe.
Hy het in Germiston grootgeword en het ná skool by bemarking en verkope betrokke geraak.
Hy het later in Pienaarsrivier gewoon en daarna by sy suster en haar man in Bela-Bela gaan woon.
Oberholzer was volgens sy familie baie vernuftig in die lê van plaveisel. “Met sy kunstenaarsoog kon hy van enige eiendom ’n skepping maak. Hy was uiters perfeksionisties en was altyd trots op dit wat hy voltooi het.”
“Hy het met min afgetree, maar hy was die soort mens wat sy laaste geld, sny brood of kledingstuk vir iemand wat dit meer as hy nodig gehad het, sou gee. Jurie se dood gaan regtig ’n leemte in ons lewens laat.”
Oberholzer laat sy suster, broer en drie volwasse dogters agter.
Mense wat Oberholzer se familie met inligting wil nader, kan hulle bel by tel. 072 796 8863 of vir AO André Van de Venter, ondersoekbeampte, by tel. (014) 736 9713 of tel. 083 604 1673.