CrimeNews

Buurt veiliger met toegangsbeheer

’n Valhek wat toegang na Gholfpark in Mookgophong beheer, sal die veiligheid van inwoners in dié woonbuurt verbeter.

Die onlangs verkose bestuur van die woongebied het vier maande gelede planne begin beraam om die veiligheid van die inwoners in die 427 wooneenhede te verbeter. Hulle het besef dat toegangsbeheer een van hul grootste probleme is.

’n Vergadering is op Dinsdag 16 September by die Naboom Tuiste vir Bejaardes gehou waar die bestuur ’n mandaat van Gholfpark-inwoners gekry het om voort te gaan met die beveiliging van die woongebied. Die volgende stap was om toestemming van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit te verkry om beheerde valhekke in Negende Straat, die ingang na die woonbuurt, aan te bring sodat voertuie en voetgangers se toegang beheer kan word.

Die gebied is nou ’n munisipale toegangsbeheerde woongebied nadat Melusi Mhlanga, munisipale bestuurder, toestemming verleen het.

Die valhekke word elektronies beheer en inwoners kon registreer vir ’n kaart wat toegang verleen. Diegene wat nog nie geregistreer het nie, sowel as besoekers, sal moet in- en uitteken by die hekwag.

Antoinette Wagener, voorsitter van die bestuur, het gesê ondernemings en inwoners se bydraes het die projek moontlik gemaak. “Ons visie is om Gholfpark die mooiste en veiligste woonplek in Mookgophong te maak,” het sy gesê.

Sy was verheug oor die samewerking en ondersteuning van inwoners. Volgens haar is die omgewing se veiligheid nou die beste wat dit in jare was. Sedert die oprigting van die veiligheidskameras en valhekke is kwaaddoeners wat groot potte wou steel, reeds vasgetrek, het sy gesê.

Wagener en Marlene van Staden, burgemeester, het die amptelike opening op Vrydag 15 November waargeneem.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button