CrimeNews

Bekyk dié prokureurs se sake, vra politieke party

Die water het nóg warmer geword vir die regsverteenwoordigers wat geïmpliseer is in ’n forensiese verslag na die geldsake van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit.

In die verslag, wat deur die nasionale tesourie aangevra is, word beweer dat miljoene rande aan maatskappye betaal is wat nie diensleweringskontrakte met die munisipaliteit gehad het nie. In talle gevalle is daar nie enige fakture vir die transaksies beskikbaar nie.

James Smalle, provinsiale leier van die DA, het die afgelope week in ’n mediaverklaring gesȇ dat hul regsverteenwoordiger ’n klag by die Legal Practice Council (LPC) gaan lȇ teen Legodi Prokureurs, Tumi Mokwena Prokureurs en van die advokate wat instruksies van hulle ontvang het naamlik adv. SDK Motsiri en adv. Manala Matlaba.

In die verklaring word dié firmas se optrede as oneties en onprofessioneel beskryf. Daar word onder meer gesê die gedragskode van regspraktisyns bepaal dat ’n prokureur nie ’n kliënt ’n onredelike hoë fooi sal laat betaal nie.

Volgens die forensiese verslag het Legodi Prokureurs na bewering instruksies ontvang om die munisipaliteit se regsake te behartig, hoewel die firma nie op die databasis van diensverskaffers gelys was nie.

Luidens die verslag is Legodi Prokureurs tussen Junie 2017 en Mei 2018 sowat R9,3 miljoen vir regsake betaal.

Volgens die DA is die aanbevelings in die verslag dat ’n kriminele saak van bedrog teen Legodi Prokureurs aanhangig gemaak word, veelseggend.

“Die aantygings en aanbevelings wat in die verslag gemaak word, is ernstig. Dit vereis die nodige ondersoek en aksie deur die LPC. Ons vra dat die LPC Legodi Prokureurs, Tumi Mokwena Prokureurs, asook vir Motsiri en Matlaba ondersoek,” het die mediaverklaring gelui.

Die Pos het Floyd Legodi en Tumi Mokwena genader om kommentaar, maar het teen druktyd geen terugvoer van hulle ontvang nie. Mokwena het verlede jaar in Mei aan Die Pos gesȇ dat sy papierwerk bo verdenking is en die klagtes afgemaak as “politieke speletjies”. Hy kon sedertdien nie weer vir kommentaar bereik word nie.

Related Articles

Back to top button