CrimeNews

Luüs hoor eers dán oor borgtog

Chris Luüs (44), eienaar van Clear Water Pools-swembaddienste in Bela-Bela, het op Woensdag 13 November ’n borgtogaansoek in die Colenzo-landdroshof in KwaZulu-Natal gebring.

Dit volg nadat die polisie hom in hegtenis geneem het op aanklag van moord op sy vriendin, Annel Snyman (37). Sy was die eienaar van die Loebies-gasteplaas buite Bela-Bela.

Die staatsaanklaar in die saak het laat Woensdagmiddag 13 November by navraag aan Die Pos gesê Luüs se borgtogaansoek sal hervat word op Woensdag 20 November.

Hy bly in aanhouding tot dan.

Luüs en Snyman was in September saam op vakansie by die Caley Mountain Resort buite Winterton in KwaZulu-Natal. Sy is op Maandag 9 September dood in een van die wooneenhede gevind waar sy glo agter ’n badkamerdeur gehang het.

Daar is aan haar familie beweer dat sy haarself om die lewe gebring het.

Die Winterton-polisie het Luüs egter sowat twee maande later by sy huis in Bela-Bela in hegtenis geneem en van die moord op Snyman aangekla.

Hy het verlede week vlugtig in die landdroshof in Weenen verskyn, waarna die saak vir die bring van ’n borgtogaansoek uitgestel is.

Hy was sedertdien in aanhouding.

Snyman het die afgelope 12 jaar op haar ouers, Hennie en Antoinette, se plaas gewoon en die roofdierpark daar bedryf.

Sy was ’n oudleerder van Laerskool Alma, Laerskool Warmbad en Hoërskool Warmbad. Sy het ná skool aan die Pretoria Technikon gestudeer en is met die outo-immuunsiekte lupus gediagnoseer.

Sy is in die weke voor haar dood deur ’n hiëna aan die arm gebyt en volgens haar familie was dié wond nog nie gesond tydens haar dood nie.

Related Articles

Back to top button