Local newsNews

Oord-eienaars juig ná 17 jaar se gesloer

Die Oog buite Mookgophong se sonering van “ontspanningsoord” na “aftreeoord” is uiteindelik ná jare se pogings afgehandel.

Dié proses het 17 jaar geneem, het raadslid Sarna Groenewald van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit in ’n mediaverklaring gesê.

Die trustees van die oord het die goeie nuus in ’n nuusbrief aan inwoners oorgedra. “Ons is verheug om aan te kondig … dat die korrekte sonering van Die Oog en die eenheid wat deur u besit en/of bewoon word, nou tot finaliteit gebring is,” het die boodskap gelui.

Gerrie van der Walt, voorsitter van die trusteeraad en Philip Venter, ondervoorsitter, het gesê hulle is dankbaar vir die vordering wat gemaak is. Die raad het daarop aangedring dat die sonering, wat as plaasgrond aangedui is, verander word. Die dokumentasie is 15 maande gelede ingedien. Die hersonering is sedert die publikasie daarvan in die provinsiale staatskoerant op Vrydag 11 Oktober van krag.

Die regspersoon is nou die eienaars van die landgoed en die ontwikkelaar se regte is beperk tot die reg op uitbreiding, maar dit word steeds gereguleer in terme van die wetgewing op infrastruktuur soos riolering, verskaffing van elektrisiteit en water.

“Ingevolge die wysigingskema mag daar geen terreinontwikkelings- of bouplanne goedgekeur word nie totdat ’n ooreenkoms aangegaan is tussen die trustees, die munisipaliteit en die ontwikkelaar (as eienaar van die regte tot uitbreiding),” het ’n nuusbrief vermeld.

Die landgoed val onder die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit en het hul steun gehad in die sonering en die moratorium wat op verdere ontwikkeling geplaas is,” het Venter gesê. Al 498 eiendomme is deeltitel, maar die geriewe is beskikbaar vir eienaars en inwoners se gebruik. Nog drie eiendomme sal oor die volgende drie jaar gebou word, met die toestemming van die trusteeraad. Die raad bestaan uit sewe lede wat jaarliks deur die eienaars op ’n jaarvergadering verkies word.

Van der Walt en Venter was dit eens dat hul eerste prioriteit is om die geriewe te onderhou en die eienaars se belange te beskerm.

Related Articles

Back to top button