NewsSchools

Gr.7’s is gereed vir die hoërskool

’n Groep gr. 7’s gaan hul Desember-vakansie met geruste harte en ’n goeie skoot opwinding in — gereed vir die nuwe hoofstuk in die hoërskool.

“Die eerste treë in die hoërskool is vir baie gr. 8’s ’n nagmerrie en hulle is gewoonlik maar bangerig vir die nuwe fase in hul lewens,” het Spikkels de Wet, waarnemende hoof van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong, gesê.

Die Hansie-onderwysers, saam met die skoleondersteuningsentrum (SOS) van Solidariteit, het werk gemaak van dié probleem en vir die tweede agtereenvolgende jaar ’n gr. 7-oorgangskamp by die skool aangebied. Die kamp is van 1-3 November gehou.

Volgens Marita Louw, een van die onderwysers wat betrokke was by die reëlings, het SOS van hul hulpbronne beskikbaar gestel. Jana Olivier, ’n onderwyseres van Laerskool Lynnwood in Pretoria, het wiskunde aangebied en elke leerder het ’n pakkie met oefenvraestelle gekry om hulle ’n voorsmakie te gee van wat hulle in gr. 8 kan verwag. Die antwoorde kan aanlyn nagegaan word.

Louw het natuurwetenskap aangebied en die leerders kon kennis maak met die Hansies se splinternuwe robotte wat aanstaande jaar in hul leerprogram gebruik sal word.

Philanda Deneysschen, ’n onderwyseres en opvoedkundige sielkundige, het studiemetodes en studiewenke met die leerders gedeel en daarna ’n Afrikaanse gedig met hulle behandel.

Die bykans 90 voornemende gr. 8’s is in drie groepe verdeel wat meegeding het in spansport. Die naweek was darem nie heeltyd net “skool” nie en die groepe het konsert gehou, speletjies gespeel en heerlik gebraai. Natuurlik kon hulle ook die Rugbywêreldbekereindstryd kyk.

Die meeste van die leerders was van Mookgophong, maar kinders van buurdorpe en selfs so ver as Polokwane het die naweek bygewoon.

Related Articles

Back to top button