CrimeNews

Woedende inwoner gooi glo brandstof in munisipale gebou uit

Volgens ’n ooggetuie het die man glo ’n munisipale beampte gevloek voordat hy ’n bottel vloeistof, wat soos petrol geruik het, in die voorportaal van die munisipale gebou uitgegooi het.

Die Bela-Bela-munisipaliteit moes op Maandag 4 November inderhaas hul deure vir die publiek sluit nadat ’n ontstoke man glo brandstof in die kliëntedienssentrum uitgegooi het.

Volgens ’n ooggetuie het die man glo ’n munisipale beampte gevloek voordat hy ’n bottel vloeistof, wat soos petrol geruik het, in die voorportaal van die munisipale gebou uitgegooi het.

Van die vloeistof het op van die personeellede beland. Hy was glo erg beswaard oor diensleweringsprobleme.

Daar was groot kommer dat die man die stof aan die brand sal steek, maar hy het volgens ooggetuies die gebou verlaat.

Nog ’n ooggetuie het aan Die Pos gesê munisipale veiligheidsbeamptes het nie die man probeer keer toe hy uit die gebou storm nie.

Die hulp van die polisie is daarna ingeroep.

Volgens sers. Frans Maponya, Bela-Bela-polisiewoordvoerder, is Lucky Kekae (47) die volgende dag in hegtenis geneem en aangekla van opsetlike saakbeskadiging.

Hy het vlugtig in die Bela-Bela-landdroshof op die aanklagte verskyn en is vrygelaat op borgtog van R500. Die saak is uitgestel na Dinsdag 19 November vir verdere ondersoek.

Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, het by navraag gesê amptenare wat deur die gebeurtenis geraak is, sal die nodige ondersteuning en berading ontvang.

“Die saak is in die hande van die polisie. Intussen sal die munisipaliteit probeer vasstel waarom die man so ontsteld was.”

  • Die Bela-Bela-munisipale gebou het sowat 15 jaar gelede tot op die grond afgebrand. Ooggetuies het destyds gesê dat hulle die nag van die brand drie mense van die perseel sien weghardloop het, waarna die gebou in ligte laaie opgegaan het. Die polisie het destyds ’n saak van brandstigting ondersoek, maar dit het op niks uitgeloop.

Related Articles

Back to top button