CrimeNews

Bejaardes in sak en as oor diefstal

“Dit was goeie gehalte toerusting. Ons sal dit nie weer kan vervang nie.”

Inbrekers wat ’n padstal buite Modimolle leeggedra het, het die mat onder twee pensioentrekkers uitgeruk.

Issie Gomes (76) en Rita Bezuidenhout (82) het onlangs begin om die Wildevy-padstal op die Vaalwater-pad reg te ruk om as winkel te bedryf. Gomes, wat slegs ’n staatspensioen ontvang, wou sy inkomste aanvul.

Nog voordat hulle klaar was, het ’n groep inbrekers egter op Maandag, 28 Oktober, ingebreek en al hul toerusting weggedra. “Al wat hulle vir ons gelos het, was twee staaltafels,” het ’n ontstelde Bezuidenhout gesê.

“Ons is platgeslaan. Dit voel asof ons net nie weer kan rigting kry nie. Ek dink die heeltyd: dit kan mos nie waar wees nie,” het sy gesê.

Die inbraak was vir hulle groot skade. Toerusting ter waarde van derduisende rande is gesteel. Die stalletjie is weer gesluit aangesien hulle dit nie sonder hul toerusting kan bedryf nie.

Die inbrekers het die deur van die padstal met sy vier slotte oopgebreek en koeldranke, duisende rande se biltong en tuisgebakte koekies gesteel. Gomes, wat ’n baie goedopgeleide slagter is, se toerusting is gebuit. Die toerusting wat gesteel is, sluit in ’n 30 kg digitale skaal, ’n klokskaal vir vleisverwerking, ’n kouevleissnyer, ontbening- en vleismesse, ’n tjipbraaier, ’n messlyper, ’n tweeplaatstoof en ’n vol gasbottel en gereedskap soos ’n hoeksnyer, bore en skroefsleutels.

“Dit was goeie gehalte toerusting. Ons sal dit nie weer kan vervang nie,” het Gomes gesê. Hulle het die oggend oor versekering gepraat, maar wou eers die rakke en wasbak insit.

“Mense van die Wasps-veiligheidsgroep en die polisie het baie vinnig opgedaag,” het Bezuidenhout gesê.

AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, het bevestig dat die inbraak ondersoek word.

“Selfs al spoor hulle al die diewe op, sal ons nie weer ons goed terugkry nie,” het Gomes gesê. “Ek was my lewe lank ’n slagter. Ek sal nou maar hier van die huis af biltong maak.”

Bezuidenhout glo dat werk ’n mens jonk hou en beplan nie om nou stil te sit nie. Sy bak heerlike vetkoek om haar inkomste aan te vul.

“Ons sal nou maar hier van die huis af iets probeer — die padstalletjies is te onveilig. Ons is net dankbaar dat ons nie daar was toe die inbrekers opgedaag het nie.”

Related Articles

Back to top button