CrimeNews

Van Tonder weer oor 10 maande voor oor vrou se dood

Die verhoor van die Bela-Bela-sakeman Herman van Tonder, wat aangekla word van die moord op sy vrou Elrina, sal eers in September aanstaande jaar (bykans ses jaar ná haar dood) in die hooggeregshof in Polokwane voortgaan.

Van Tonder het op Maandag 4 November in dié hof verskyn, maar sy regspan het aangedui dat hulle nie reg is om met die saak voort te gaan nie. Deskundiges wat vir hom sou getuig, was glo nie beskikbaar nie.

Van Tonder, die eienaar van die luukse Mbizi Game Lodge and Spa buite Bela-Bela, word daarvan aangekla dat hy Elrina verwurg het.

Luidens die akte van beskuldiging is Elrina in November 2014 in die St. Vincent’s-hospitaal (nou bekend as die Phodi-kliniek) in Bela-Bela onder verdagte omstandighede dood verklaar. Die aanvanklike bewering was dat sy weens inwendige bloeding dood is.

Die akte beweer dat Van Tonder en Elrina ’n stormagtige huwelik gehad het en dat hulle die aand van 5 November 2014 alleen tuis was. Die volgende oggend het Van Tonder met Elrina, wat reeds dood was, by die hospitaal opgedaag. Hy het gesȇ dat hy by was toe sy aan natuurlike oorsake gesterf het.

Die nadoodse ondersoek het glo egter bevind dat sy verskeie beserings gehad het en moontlik verwurg is.

Die verhoor sou aanvanklik in Maart vanjaar in die rondgaande hof in Lephalale plaasgevind het, maar is na Polokwane verskuif.

Van Tonder is in Januarie verlede jaar in hegtenis geneem op aanklagte van moord en bedrog. Borgtog van R15 000 is toegestaan en hy moes sy paspoort indien. Sy borgtog is na vorige verskynings verleng.

Die bedrogklag spruit uit bewerings wat verband hou met ’n lewenspolisie op Elrina se naam.

Related Articles

Back to top button