Local newsNews

Vrou sterf drie dae ná ongeluk in Bela-Bela-sakesektor

Die voertuig het omtrent 10 m van die kruising teen ’n lamppaal op die middelman in Chris Haniweg tot stilstand gekom nadat die Daihatsu met ’n Nissan bakkie gebots het.

’n Vrou van Bela-Bela is in die hospitaal dood nadat sy en haar dogter op Vrydag 1 November op die hoek van Pretoria- en Chris Hanistraat in die dorp in ’n ongeluk betrokke was.

Alet Cronjé (64) is drie dae later in die provinsiale hospitaal in Polokwane oorlede.

Sy en haar dogter, Susan, het die betrokke middag in hul wit Daihatsu-voertuig teen ’n Nissan-bakkie gebots.

Erge skade is aan die voorkant van die Daihatsu en aan die linkerkant van die bakkie opgedoen.

Alet se voertuig het omtrent 10 m van die kruising teen ’n lamppaal op die middelman in Chris Haniweg tot stilstand gekom.

Die bakkiebestuurder was ongedeerd.

Ooggetuies op die toneel het verskillende weergawes gehad van hoe die ongeluk gebeur het.

Susan het by navraag gesê haar ma moes ure ná die ongeluk na die provinsiale hospitaal in Polokwane gehaas word nadat dokters bevind het sy het bloeding op die brein.

Sy is die naweek in ’n geïnduseerde koma geplaas, maar is teen 03:00 Maandagoggend 5 November oorlede.

Volgens die polisie is daar ’n ongeluksverslag saamgestel, maar geen klagtes word tans ondersoek nie.

Alet het in Polokwane grootgeword en direk ná skool met haar man, Johnny, getrou. Hy is reeds oorlede.

Die gesin het na Bela-Bela verhuis en woon al 40 jaar in die omgewing.

Alet was onder meer betrokke by naskoolsentrums en het as dagmoeder gewerk.

“Sy wou die beste vir almal gee en het gehelp waar sy kon. Sy was ons steunpilaar. Ons gaan haar ontsettend mis,” het Susan gesê.

Die familie bedank almal vir hul boodskappe en oproepe in hierdie moeilike tyd.

Geen begrafnisreëlings is bekend gemaak nie.

Alet laat haar suster en drie dogters agter.

Related Articles

Back to top button