Local newsNews

Elke hond kry sy dag in Mookgophong

Die spreekwoordelike “elke hond kry sy dag” het op Saterdag 19 Oktober aangebreek met 62 honde wat stertswaaiend deelgeneem het aan die Naboom-dierebeskermingsgroep se hondeskou.

Van klein teekoppiegrootte Yorkies tot groot honde soos ’n labradoodle, ’n Ierse setter en Duitse herdershonde het gespog met hul mooi pelse en oulike toertjies.

Volgens Miekie Oberholster, voorsitter van die bestuurskomitee, was die skou die breinkind van Madelein Haggard, ’n diereliefhebber en lid van die dierebeskermingsgroep. Die skou is op die feesterrein in Mookgophong gehou.

 

Willem Botha en sy beste vriend(in), Sofia, het die fotokompetisie gewen.

 

Die ingangsfooi vir besoekers was ’n skrale R5. Elkeen het ’n polsbandjie gekry en aan die einde van die skou was daar ’n gelukkige trekking waar die wenner ’n vakansie vir ses mense by Die Oog-vakansieoord kon wen. Hettie Steenkamp het dié lekker prys gewen.

“Ons is oneindig dankbaar vir die positiewe opkoms. Daar was 400 mense wat die skou bygewoon het,” het Oberholster aan Die Pos gesê.

Die opbrengs van meer as R12 000 sal gebruik word om katte en honde te steriliseer en kastreer sodat hulle nie onnodig aanteel nie.

Talle skenkers en borge het ook die geldkoffers ’n hupstoot gegee.

“Dit was nou ’n lekker dag,” het Marelee Erasmus, een van die besoekers, gesê.

Die Limpopo K-9 Akademie van Polokwane het ’n vertoning met hul goedopgeleide honde gehou. Tania le Roux en Alta Visser is gekwalifiseerde honde-instrukteurs en Linda Dyer is ’n gekwalifiseerde kundige in hondegedrag.

Daar was agt kategorieë waaraan die honde kon deelneem, asook ’n fotokompetisie. Die kategorieë het ingesluit die hond met die beste toertjies, die lelikste hond, die eienaar en hond wat die meeste na mekaar lyk, die hond met die langste ore, die oulikste bababrakkie, die besversorgde of geskeerde hond, die besgeklede en die grootste hond.

“Dit was ’n lekker pretdag vir almal. Baie dankie vir die wonderlike ondersteuning,” het Oberholster gesê.

Related Articles

Back to top button