Local newsNews

Dra mekaar se welstand op die hart

Henriette Els, streeksbestuurder van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) in Limpopo, werk reeds jare lank as maatskaplike werker in Modimolle waar sy ondersteuning aan gesinne en mense in nood bied.

Uit die aard van haar werk is brugbou ’n noodsaaklikheid tussen gesinslede, mense in die gemeenskap en organisasies wat ’n helpende hand kan uitreik om dié wat in moeilike omstandighede is te help.

Els het lank as maatskaplike werker by die Abraham Kriel-kinderhuis gewerk, waarna sy by die Ondersteuningsraad (nou bekend as Rata) gewerk het, voordat sy by die SAVF aangesluit het.
Die Pos het by haar aangeklop vir ons maandelikse Brugbouer-rubriek.

Watter liefdadigheidsinstansie lê jou na aan die hart?
Die SAVF, juis omdat ons by soveel projekte betrokke is om die gemeenskap op te hef. Ons is betrokke by die Klein Treetjies-kleuterskool in Modimolle, ouetehuise en behuisingskemas vir ouer mense. Die organisasie het ’n baie wye diensveld, maar ons fokus veral op kinders en bejaardes. Dit is egter ook belangrik om die ouers van jong kinders te ondersteun en te bemagtig met kennis oor ouerskap.

As jy R1 miljoen kry om in jou gemeenskap te bestee, wat sou jy eerste doen?
Ons sit met so baie maatskaplike probleme en die statutêre werk en administrasie sluk soveel van die maatskaplike werkers se tyd in dat hulle nie die geleentheid kry om meer sigbaar in die gemeenskap te wees nie. Ek sou graag nog werkers wou aanstel om die jeug, wat soms doelloos ronddwaal, en hul ouers toe te rus. Ons kan dan groepe toespreek en meer mense bereik.

Ek sal ook ’n deel van daardie R1 miljoen wil gebruik om beter geriewe te verskaf vir kinders met gedragsprobleme en geestesgesondheidsiektes. Ons het nie werklik daardie dienste in Limpopo nie en die provinsiale hospitale het amper nooit medikasie nie. Ons kort opgeleide personeel en dokters om hierdie kinders vroeg al te identifiseer sodat hulle die korrekte behandeling kan kry.

Wat dink jy is die toekoms van klein Suid-Afrikaanse dorpies soos Bela-Bela, Modimolle, Vaalwater en Mookgophong?
Omdat die dorpe so klein is, sal mense meer moet staatmaak op hulp van vrywilligers omdat baie organisasies, ons inkluis, se subsidies gesny word omdat die regering hul uitgawes probeer beperk.

Bela-Bela het ’n baie bedrywige groep vrywilligers wat deur projekte soos vetkoekverkope en markte geld insamel vir die Warmbad Rusoord, Huis Tekna en Huis Talje wat hulp baie nodig het. Hulle is vir ons goud werd, want die maatskaplike werkers kom nie by alles uit nie.

Watter aanhaling inspireer jou?
Ds. Danie Ueckerman het eenkeer ’n storie vertel van ’n man wat langs die strand stap.

Daar het honderde seesterre uitgespoel en ’n man was besig om hulle een vir een terug te gooi in die see. Die man wat gaan stap het, het vir hom gesê hy mors sy tyd, want hy sal nie ’n verskil kan maak nie — daar is te veel sterre wat uitgespoel het. Die man het egter voortgegaan en nog ’n ster in die water gegooi: “Ek het ’n verskil aan daardie een gemaak!” het hy gesê.

Wie het jou oortuig dit is nodig om brûe te bou?
My musiekjuffrou het met haar eenvoudige aanslag ’n groot impak op my gemaak. Sy het my nie net van musiek geleer nie, maar ook aan my selfbeeld gewerk. Moenie dink dat iets kleins ook iets niksseggends is nie. Op die lange duur kan dit ’n groot verskil maak.

Elma Rheeder van die SAVF inspireer my ook met al die projekte wat sy aanpak om gemeenskappe op te hef.

Watter probleem in jou gemeenskap dink jy moet eerste aandag geniet?
Ek is bekommerd oor die jeug wat so doelloos is. Die probleem se oorsprong kom van jongs af, waar ouers hul kinders nie genoeg leiding en ondersteuning gee nie. Dit is nie die skool se verantwoordelikheid nie. Kinders leer dikwels nie om hul plek as volwassenes in die gemeenskap vol te staan nie.

Wat maak jou hande sterk?
Vrywilligers en organisasies wat help. Die vrywilligers is ons oë en ore in die gemeenskap en met hul projekte dra hulle soveel by. Dit maak ons taak aansienlik makliker. Dit gebeur dikwels dat iemand uit die bloute vir jou deure oopmaak om ’n probleem op te los.

Wat is jou droom vir jou gemeenskap?
Dit sal wonderlik wees as ons weer vir mekaar omgee. As ons weer weet wie ons bure is en uitreik na mekaar. Ek hoop dat ons sal onthou: “It takes a village to raise a child” en dat almal verantwoordelikheid sal neem vir mekaar se welstand.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button