Local newsNews

‘Ouma’ Emmie sê sy gaan nog voor die afskop begin skree

“Ek ken nie al die nuwe reëls van die spel nie. Al wat vir my saak maak, is dat daar punte op daardie telbord aangeteken word. Ek gee nie om of hulle foute maak nie.”

Wanneer die Springbokke dié naweek uitdraf vir die finaal van die Wêreldbeker-rugbyreeks sal stoere ondersteuner Emmie Booysen (88), ’n inwoner van die Warmbad Rusoord, sukkel om haar emosies in toom te hou.

’n Video van Booysen, wat onderlangs deur een van haar kleindogters geneem is pas nadat die Springbokke op Sondag 27 Oktober met Wallis afgereken het, is al duisende kere op Facebook gekyk en gedeel. Dié video is onder meer op die groep #ImStaying en op Die Pos se Facebook-blad gelaai.

Die Pos het met Booysen en haar kleindogter, Lynelle Smith, gesels oor haar liefde vir dié sport en haar reaksie op die videogreep wat die land aan die gons het.

“Die trots wat ek ervaar het om daardie manne in die groen en goud op die veld te sien, het my hart laat oorloop van vreugde. Hoe hulle telkens die bal vir mekaar aangegee en punte aangeteken het. Dit is my mense daardie. Ek is patrioties,” het Booysen vertel.

Hoewel sy as een van die grootste rugbygeesdriftiges in haar familie beskou word, het Booysen nog nie die voorreg gehad om ’n wedstryd op ’n stadion te kyk nie.

“Die eerste wedstryd wat ek gesien het, was toe televisie in 1976 in Suid-Afrika begin het. Sedertdien probeer ek om geen wedstryd mis te loop nie,” het sy gesê.

“Ek ken nie al die nuwe reëls van die spel nie. Al wat vir my saak maak, is dat daar punte op daardie telbord aangeteken word. Ek gee nie om of hulle foute maak nie.”

“Ek het Sondagoggend gebid dat die Bokke moet wen,” het Booysen tong in die kies gesê. “Die ander spanne se ondersteuners vra ook vir genade. Ek dink net ek het effens harder gebid.”

Booysen se gunstelingspeler is die Springbokstut Tendai “Beast” Mtawarira, maar sy het ook ’n sagte plekkie vir Faf de Klerk, Handré Pollard en Elton Jantjies.

Sodra die Superrugby-reeks of die Curriebeker jaarliks begin, is haar hart oop vir die Cheetahs van die Vrystaat. Haar tweede keuse is die Leeus. “Dit is baie erg vir my as daardie twee spanne teen mekaar speel. Ek hoop altyd dat hulle gelykop eindig.”

Smith het aan Die Pos gesê haar ouma het die hele familie geïnspireer met ’n positiewe lewensuitkyk en dat sy en haar oorlede man, Pieter, die regte grondslag gelê het waarop die nageslag kan voortbou.

“Haar positiewe houding en lojale ondersteuning van haar gunstelingrugbypanne is onwrikbaar. Sy het ’n positiewe invloed op almal om haar,” het Smith gesê.

Booysen beplan om eerskomende Saterdag 2 November die Wêreldbeker-finaal teen Engeland in die gemak van haar gunstelingleuenstoel, omring met haar geliefdes, te kyk.

“Hierdie mense wat so grappies maak oor die Anglo-Boereoorlog moet onthou dat die oorlog lankal verby is. Ons almal is nou Suid-Afrikaners en ons is almal Springbokondersteuners,” het sy gesê.

“Ek hou al klaar duim vas vir hulle, want Engeland gaan nie met hulle laat weghardloop nie. Ek gaan al begin skree nog voordat die wedstryd begin het.”

Oor haar faam op sosiale media is sy baie beskeie. “Ek is nou nie een vir die kollig nie, al neem die kinders my skelmpies af met hul slimfone. Ek voel nooit afgesonder nie, want hulle betrek my by alles. Ek self sukkel so ’n bietjie om my slimfoon te werk,” het Booysen gesê.

Smith het vertel dat verskeie mense in hul kommentaar in reaksie op die video gesê het Booysen inspireer hulle om beter Suid-Afrikaners te wees. Sy het gesê dat haar ouma sê opbouende kritiek is nodig om ’n mens vooruit te laat gaan. Ons moet almal meer positief wees.”

• Kyk na dié pragtige video op Die Pos se Facebook-blad by Pos-koerant Limpopo.

Related Articles

Back to top button