Die DA het tydens die parlementsitting in September antwoorde geëis oor die aantal beskikbare polisievoertuie in Limpopo.
Desiree van der Walt, LP en die DA se Waterberg-kiesafdelingshoof, het genl. Bheki Cele, minister van polisie, hieroor uitgevra.
Cele het in reaksie gesê daar is altesame 450 polisievoertuie in die Tzaneen-, Groter Letaba-, Ba-Phalaborwa-, Thabazimbi-, Maruleng- en Bela-Bela-omgewing beskikbaar.
Die polisiestasies wat minder as 10 voertuie het, sluit in Haenertsburg, Mokwakwaila, Rooiberg, Rust de Winter, Tuinplaas, Cumberland, Dwaalboom en Hoopdal.
Die Gyani-polisiestasie het die meeste voertuie (55) met Tzaneen 38, Maake 29, Malamulele 28, Ritavi 25 en Bela-Bela 22, het Cele gesê.
Die polisiestasies wat meer as 10, maar minder as 20 voertuie beskikbaar het, is Bolebedu, Letsitele, Modjadjiskloof, Hlanganani, Sekgosese, Gravelotte, Hoedspruit, Lulekani, Namakgale, Phalaborwa, Pienaarsrivier, Northam en Thabazimbi. Die Nylstroom-streek, waaronder Modimolle, Mookgophong en Vaalwater val, se syfers is nie bekend gemaak nie.
Cele het voorts gesê dat dié 450 polisievoertuie nie voldoende is vir die onderskeie stasies in Limpopo nie.
Die polisiestasies met die grootste tekort is Bolobedu (14), Namakgale (10) en Phalaborwa (10).
Die ander polisiestasies se tekorte wissel tussen een tot sewe voertuie.
Cele het gesê alle voertuie word een keer per week deur die stasiebevelvoerders nagegaan vir tegniese- en padwaardigheidsprobleme.
’n Bron in die polisie het by navraag aan Die Pos gesê die voertuie wat aan elke stasie toegewys word, word nie net vir misdaadvoorkoming aangewend nie, maar vir alle afdelings soos administrasie en logistieke bestuur ook.
Die bron het voorts gesê die tekort aan voertuie word meestal toegeskryf aan die “tydsame” instandhoudingsproses, voertuie wat afgeskryf word of voertuie wat eers vervang kan word sodra die polisie se begroting dit in die nuwe boekjaar toelaat.
Van der Walt het in ’n mediaverklaring ’n beroep op die LUR van vervoer en gemeenskapsveiligheid, Namane Masemola, gedoen om meer voertuie aan die polisie beskikbaar te stel. “Statistieke toon misdaad neem tydens die feesseisoen toe en polisiebeamptes kan nie misdaadvoorkoming voldoende toepas indien daar onvoldoende voertuie is nie.