BlogsOpinion

Hoofartikel: 50 Skakerings van groen

Dit is ’n natuurervaring sonder weerga en dit behoort op die emmerskoplys van elke natuurliefhebber te wees.

Ek het onlangs die voorreg gehad om die Mana Pools Nasionale Park in die noorde van Zimbabwe te besoek.

’n Retoerrit van 3 800 km en 10 grensposte kon my en Manlief nie daarvan afsit om ’n lewenslange droom te bewaarheid nie. Want met die brandstofkrisis in Zimbabwe was ons genoodsaak om deur Botswana en Zambië tot in Mana Pools te ry.

 

Foto: pixabay.com

 

En dit was elke kilometer op die langpad en elke uur by elke grenspos die moeite werd. Dit is te verstane dat dié park in 2019 wêreldwyd deur SafariBookings as die tweede beste safaribestemming aangewys is (Serengeti in Tanzanië was ’n kortkop voor). Dit is ook een van die min plekke in Afrika waar die Nyasa-parakiet (Lillian’s Lovebird) voorkom. En dit is ook die enigste Groot Vyf-natuurpark in die suidelike halfrond waar ’n mens sonder ’n gids mag stap — natuurlik nadat die nodige permit aangeskaf is.

Dit is ’n natuurervaring sonder weerga en dit behoort op die emmerskoplys van elke natuurliefhebber te wees.

Maar dit is mos eintlik die mense van ’n land wat my na ’n kamera en skryfding laat gryp. Ons het gelukkig met die terugreis besluit om oë toe te knyp en deur Zimbabwe te ry. Op die koop toe het ons dié land se mense eerstehands ervaar.

Deur ’n voertuig se venster sien ’n mens mos die lewe by jou verbysnel. Skoolkinders wat vroegoggend drafstap na ’n skoolgebou wat vermoedelik in ’n vorige politieke bedeling laas met ’n verfkwas kennis gemaak het.

En dit is droog. Dit is verskriklik droog. Die droogste in 40 jaar, het ons stapgids ons meegedeel. Groot dele van Zimbabwe ontvang op die oomblik voedselhulp en op die pad flits voertuie by ons verby waarop staan: UN Food Aid.

Indien dit nie binnekort reën nie, staar hongersnood dié land in die gesig. In Julie vanjaar was daar reeds twee miljoen huishoudings sonder skoon water as gevolg van die droogte. Selfs by Mana Pools het twee van die poele heeltemal opgedroog en die Kariba-dam is op die laagste vlak ooit.

Maar oral waar ons stilhou, begroet vriendelike gesigte ons. Kinders wuif vrolik langs die pad. Waar ons in die kleiner dorpies oornag, borrel vrolike musiekklanke tot laatnag uit die woonbuurtes. Daar word gekuier en die strate is ’n mengelmoes van straatsmouse, kunstenaars en vrolike kopers. Die mense van Zimbabwe jubel.

Al is daar nie brandstof by die vulstasies nie en al is die voorraad op die winkelrakke beperk tot olie en blikkies sardiens. Al is hul geldeenheid niks werd nie. Al beleef hulle een van die droogste jare in menseheugenis. Al is hulle land die muishond van die wêreld.

In Mana Pools het ek die mooiste skakerings van groen in die vlerke van die Nyasa-parakiet gesien, ek het sewe skakerings van dié kleur in die blare van die reuseworsbome (Kigelia africana) sien ritsel. Maar in die oë en gees van Zimbabwe se mense het ek 50 skakerings van groen getel.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button