Lede van die hekelklub in Bela-Bela hekel jaarliks ’n lappieskombers ten bate van liefdadigheid. Vanjaar se helderkleurige kombers bestaan uit 100 gehekelde blokkies en sal tydens die Paljas Kersmark op Sater-
dag 2 November uitgestal word. Lootjies word teen R50 tydens die mark verkoop en ná afloop van die mark sal daar ’n naam uit die hoed getrek word wat die wenner van dié pragtige kombers sal wees. Die mark, wat op die terrein van Hoërskool Warmbad plaasvind, se hekke open om 08:00 en loop om 16:00 ten einde. Die Wêreldbeker-rugbyeindstryd word om 11:00 in die skoolsaal op ’n grootskerm uitgesaai. Daar sal ’n heerlike atmosfeer heers en die personeel sal die kontantkroeg beman.
Hierdie stel huissleutels en twee bestuurders-lisensies is by Die Pos se kantoor in Bela-Bela afgegee nadat weldoeners dit in die dorp opgetel het. Die lisensies behoort aan PJ Coertze en J. Barron. Dit kan by Die Pos se kantoor in Minnaar-straat afgehaal word.
Bosvelders het op Saterdag 19 Oktober die geleentheid gehad om die pragtige kunswerke van Ingrid Baggeröhr en Chrissie Roodt by die Baja-gasteplaas in Droogekloof buite Bela-Bela te besigtig. Baggeröhr, ’n Pretorianer, spesialiseer in beeldhouwerk en skilder ook gesigstudies, familieportrette en natuurtonele. Haar werke is onder meer te sien by Sun City, Gold Reef City en Golden Horse Casino. Roodt is ’n onderwyser by Laerskool Nylstroom en bekend onder wildtelers vir haar werk van stoetdiere. Kinders en kuns is haar twee grootste liefdes. Op die foto tussen die kunswerke staan Roodt, Nici van der Merwe, Droogekloof-sakevrou, en Baggeröhr tydens die geleentheid.
Talle Bosvelders het hul harte oopgemaak vir die Boks vir ’n Boervrou-veldtog. Twee vragte vol skenkings is reeds vanuit Bela-Bela op pad na Wellington in die Wes-Kaap vir gesinne wat gebuk gaan onder die erge droogte. Die organiseerders van die veldtog vra dat Waterbergers steeds hul bydraes by Huyndai se kantoor in Bela-Bela aflaai. Bel vir Mathilda van Straaten vir navrae by tel. 082 882 3353. Op die foto is Van Straaten by die nuutste skenkings wat eersdaags Kaap toe vervoer sal word.
Corlia Branders, berader en psigometris van Bela-Bela, het lede van die Vroue Landbou-unie se Warmbad-tak tydens die September-vergadering toegespreek. Lede moes vraelyste invul wat sy ge- bruik het om sekere karaktereienskappe te bepaal. Lede is daarna volgens bome geklassifiseer wat elk unieke eienskappe het. Die vroue het die lesing baie insiggewende gevind.