NewsSchools

Beurtkrag boelie matrieks

“Dit was baie spanningsvol en kandidate was duidelik baie ontsteld.”

Eskom se onverwagse beurtkrag het verlede week matriekleerders se spanningsvlakke tydens hul eerste eindeksamenvraestel verhoog.

Die meeste skole in Die Pos se lesersgebied het egter gou reggestaan met ’n plan B om leerders by te staan.

Die kragverskaffer het onverwags op Woensdag 16 Oktober begin om beurtkrag toe te pas op die oggend wat talle matriekleerders hul eerste vraestel van die eindeksamen, die vak praktiese rekenaartoepassingstegnologie(RTT), moes skryf.

Talle leerders het reeds die vraestel onder oë gehad toe die krag teen ongeveer 09:00 afgegaan het. Volgens regulasies mag hulle dan nie weer kontak met mekaar hê nie en moes noodgedwonge tjoepstil sit en wag tot alternatiewe reëlings in plek was sodat hulle verder kon skryf.

Die skole het nie vooraf kennis gekry dat beurtkrag toegepas gaan word nie.

“Gelukkig het ons ’n kragopwekker wat ingespan kon word, maar leerders moes 30 minute wag voordat hulle kon begin skryf,” het Shirley Campbell, onderwyser van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong, gesê.

“Dit was baie spanningsvol en kandidate was duidelik baie ontsteld.”

Paul Liddle, hoof van Hoërskool Warmbad, het gesê dit is baie vreemd dat beurtkrag skielik op die dag dat die eindeksamen begin het, ingestel moes word. “Dit is ’n groot uitdaging, maar ons is een van die gelukkige skole wat ’n ondersteuningsnetwerk het.”

’n Ouer van Hoërskool Nylstroom, wat verkies om anoniem te bly, het gesê die skool het die ouers ingelig gehou oor die gebeure.

Hulle het die kinders voorsien van water en kos in die wagtyd en toe vir kragopwekkers gesorg om mee aan te gaan. Indien daar nog kragonderbrekings aan die kom is, is hulle reg daarvoor,” het die ouer gesê.

Die leerders is glo vooraf deeglik ingelig oor wat in elke situasie volgens wet moet gebeur. Hulle was rustiger omdat hulle geweet het wat die prosedure is.

Eskom het gesê ’n gebreekte voerband by hul Medupi-kragstasie in Lephalale en ketellekkasies by ses ander eenhede by van die kragstasies het hulle tot beurtkrag genoop. Die kragverskaffer gaan gebuk onder groot geldelike uitdagings.

Beurtkrag is tot Vrydag 18 Oktober toegepas en Eskom het gewaarsku dat hoewel beurtkrag moontlik nie verder deur die week toegepas sou word nie, die kragstelsel steeds onder groot druk verkeer en onverwagse terugslae kan lei tot beurtkrag op kort kennisgewing.

  • Inwoners van Modimolle se krag was weer onverwags op Dinsdagmiddag 22 Oktober af nadat ’n witfasekabel op Eskom se toerusting glo uitgebrand het. Matriekleerders het op Woensdagoggend 23 Oktober ’n Engelse vraestel, vir die meeste leerders hul eerste vraestel van die eksamen, geskryf.Die kragtoevoer kon gelukkig tydelik deur die nag deur Eskom herstel word hoewel die munisipaliteit inwoners gewaarsku het dat dit weer in die middag kon af wees om noodsaaklike herstelwerk te doen.

Related Articles

Back to top button